Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Gauteng ‘kan nie byhou met dienste’
Minstens 230 000 mense stroom jaarliks na Gauteng om in die provinsie te woon en werk te soek. Foto ter illustrasie. Foto: Argief

Minstens 230 000 mense stroom jaarliks na Gauteng om in die provinsie te woon en werk te soek.

“Plaaslike owerhede word oorweldig en kan nie byhou met die lewering van dienste nie.”

So het Lebogang Maile, LUR vir ekonomiese ontwikkeling, landbou, die omgewing en landelike ontwikkeling, Woensdag gesê met die bekendstelling van Gauteng se provinsiale omgewingsverslag vir 2017.

Maile waarsku as hierdie migrasiepatroon voortduur, sal Gauteng teen 2025 ’n ernstige waterkrisis ervaar.

Hy het daarop gewys dat die provinsie reeds soortgelyke krisisse in die gesondheids- en onderwyssektor ervaar. “Ons skole en hospitale is reeds oorbevolk. Ons kan nie byhou nie.

“Ons kan ook nie die nuwe mense wegjaag nie. Hulle kom van oral: uit ander provinsies en vanuit ander Afrikalande. Dalk moet ons vir hulle hul paspoorte en identiteitsdokumente begin vra,” het hy skertsend gesê.

Volgens Maile ervaar die Wes-Kaap en Gauteng dieselfde “knellende” toeloop van mense.

Volgens hom kry net KwaZulu-Natal bykomende geld om sy infrastruktuur op te gradeer, terwyl Gauteng “geen bykomende geld” kry nie.

Hy sê Emfuleni en Merafong is die twee plaaslike owerhede wat in “die grootste moeilikheid is”.

Die Groen Skerpioene sal Donderdag besoek by Emfuleni aflê om vas te stel waarom dienste in dié plaaslike owerheid feitlik tot stilstand gekom het.

Luidens die verslag lyk dit asof Gauteng ekonomies “baie goed vaar”. Dit is egter bereik ten koste van die natuurlike omgewing.

Die opstellers van die verslag sê die provinsiale wetstoepassers sal onmiddellik aandag moet gee aan die voortdurende storting van giftige afval dwarsoor die provinsie en die vinnige agteruitgang in die watergehalte in Gauteng se riviere.

Lebogang Maile, die Gautengse LUR vir ekonomiese ontwikkeling. Foto: Zamokuhle Mdluli

Luidens die verslag word giftige afval na Gauteng uit ander gebiede “ingevoer”.

Die verslag wys daarop dat veral menslike migrasiepatrone, mynbou, vervoer en die opwekking van energie druk op Gauteng se natuurlike omgewing plaas.

Met verwysing na lugbesoedeling in die provinsie, het Maile gesê die Groen Skerpioene gaan ontplooi word om die direkteure van nywerhede, asook amptenare in plaaslike owerhede wat hul plig versuim, voor stok te kry. Hy sê dit is die plig van plaaslike owerhede om luggehalte te moniteer. Dit is egter duidelik dat amptenare hul plig versuim. Hulle sal in hul persoonlike hoedanigheid beboet word, sê Maile.

Volgens Maile sit die provinsiale owerheid ook met die hande in die hare oor die suur mynwater in die provinsie – die nalatenskap van goudmynbou – omdat daar steeds “debat gevoer word” oor wie vir die suiwering daarvoor moet betaal.

Nog uit die verslag:

* In 2012 het inwoners van Gauteng jaarliks sowat 9 miljoen ton afval gegenereer. In 2014 het dit tot 15,86 miljoen ton gestyg.

* 55% van Gauteng se grondoppervlakte is onherstelbaar verander weens die vestiging van woonbuurte, mynbou en landbou.

* Damme in Gauteng is oor die algemeen in ’n baie swak toestand weens eutrofikasie weens rioolafval en ander voedingstowwe wat daarin beland. Eutrofikasie verwys na die stadige toename in die konsentrasie van fosfor, stikstof en ander plantvoedingstowwe in die water.

* Die monitering van 178 boorgate in die provinsie dui daarop dat die ondergrondse watervlak van 2014 tot 2016 “geweldig gedaal het”. Die opstellers sê hierdie bevinding “is geweldig kommerwekkend”.

Meer as 60% van die inwoners van Gauteng is behoeftig. 20% van die bevolking lewe onder die broodlyn.

Die meeste armes woon in Sedibeng.

Meer oor:  Werk  |  Dienste  |  Dienslewering  |  Gauteng
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.