Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Gebrek aan meentgrond-bestuur, wetstoepassing skep konflik
Dr. Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die opposisie in die Vrystaatse wetgewer, by 'n windpomp op 'n Vrystaatse plaas.Foto: Verskaf

Die DA in die Vrystaatse wetgewer het vrae gestuur aan William Bulwane, LUR vir landbou, en Sam Mashinini, LUR vir polisie, paaie en vervoer, oor hul planne met die bestuur van meentgrond waarop gemeenskaplik geboer word in die provinsie.

Dr. Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, sê alhoewel die bestuur van meentgrond onder plaaslike munisipaliteite val, moet die provinsiale regering wetstoepassing verseker vir kommersiële en meentgrondboere.

“Die DA het klagtes van sulke meentgrondboere ontvang dat hulle nie deur munisipaliteite en die provinsiale regering ondersteun word nie. Kuddes word te groot vir meentgrond, terwyl sommige staatsgrond en -plase in onbruik is. Ander klagtes hou verband met die gebrek aan veeartsenydienste, weiding, water en markte, terwyl veediefstalle en swak omheining ook probleme is.

Jankielsohn sê die kommersiële boere het al hoe meer te kampe met toenemende veediefstalle en die instroming van die weidende vee van meentgrondboere.

Hy sê die gebrek aan optrede deur óf die plaaslike owerhede óf die polisie veroorsaak toenemende konflik tussen meentgrondboere en kommersiële boere. Baie van die vee-eienaars is van Lesotho en boere se aanduidings dat hulle op die vee beslag sal lê of laat skut, en vir eienaars geld gaan vra vir weiveld wat opgevreet is, lei tot dreigemente van vergiftiging of ander vorms van geweld.

Jankielsohn sê die omstandighede bedreig die veiligheid en lewensomstandighede van die plaasboere en hul werknemers.

Dr. Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, staan hier by ’n bord waarop die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming waterprojekte vir vee aankondig. Foto: Verskaf

“Die omstandighede is erger aan die Lesotho-grens waar vee van Lesotho vryelik aan die Suid-Afrikaanse kant wei en vreet. Daar is eweneens ’n gebrek aan wetstoepassing oor vee wat die land binnestroom, terwyl groot probleme met veediefstalle ook voorkom.”

Hy sê oop grense as gevolg van die gebrek aan grensbeheer en wetstoepassing bedreig nie net die veiligheid en lewensomstandighede van Suid-Afrikaanse boere nie, maar verhoog ook die kans dat siektes soos miltsiekte van Lesotho na Suid-Afrika mag versprei.

Die DA het onlangs ’n opgegradeerde alternatiewe veiligheidsplan in die parlement bekend gestel wat met sulke probleme kan help.

Die DA in die Vrystaatse wetgewer sal voortgaan om druk toe te pas in verband met dié brandende kwessies om ondersteuning te kry van die provinsiale regering vir die bestaans-, opkomende en kommersiële boere.

“Dit is belangrik dat ons voedselprodusente in die provinsie in staat moet wees om te kan werk en om in vredeliewende wyse langs mekaar te kan bly,” sê Jankielsohn.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.