Die gebrek aan dienste van die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) op plattelandse dorpe in die Noord-Kaap “is onaanvaarbaar”.
“Dit is onaanvaarbaar dat plekke soos Hondeklipbaai geen Sassa-dienste het nie en dat begunstigdes dikwels tot R1 200 vir vervoer na Springbok of Garies, of R700 na Kleinzee moet opdok om hul pensioen van R1 890 te kry,” sê Gizella Opperman, DA-portefeuljekomiteelid van maatskaplike ontwikkeling in die Noord-Kaap.
Opperman sê inwoners van Soebatsfontein, Spoegrivier, Lepelsfontein en Klipfontein ondervind dieselfde probleem.
“Wat oorbly van die toelae nadat uitgawes aangegaan is om dit te kry, is om van te huil. Dit plaas ook al hoe meer huishoudings in ’n ewige wurggreep van tekort, nood en behoefte.”

Gizella Opperman van die DA praat met inwoners van Loeriesfontein wat wag om staatstoelaes te ontvang.
Sy sê die situasie word vererger deur stygende lewenskoste en verhogings wat minder as inflasie is.
“Die pryse van basiese voedselprodukte soos rys, suiker, meel en mielieblom het met tot 68% gestyg en die basiese benodigdhede kos deesdae al meer as R4 051. Dit is meer as wat 60% van die land se werkersklas verdien.”
Tito Mboweni, minister van finansies, se aankondiging dat Sassa-toelaes met slegs R1 per dag vir bejaardes verhoog word en met R10 per maand, of 33c per dag vir kindertoelaes, bied ook nie verligting nie, sê sy.
“R10 is nie genoeg vir ’n brood nie, terwyl 33c nie eens ’n lekkertjie kan koop nie. Wat nog te sê van die R460-kindertoelae waarmee ’n mens nie ’n blik melk teen R370 asook ’n pak doeke teen R170 kan koop nie. Wat van medisyne, klere, skool- en taxigeld?”
Sy sê die toenemende finansiële druk op kwesbare mense dompel hulle dieper in armoede.
“Ek sal die saak in die parlement dryf en die nasionale departement van maatskaplike ontwikkeling vra om dadelik die gebrek aan Sassa-betaalpunte in die provinsie te pak. Gratis vervoer kan voorsien word, mobiele eenhede kan gestuur word en reëlings kan met bestaande instellings getref word wat die betaling namens Sassa kan behartig.”
Oppeman sê betalings aan begunstigdes deur bankrekeninge kan ook uitgebrei word, maar dat bykomende bankkoste nie gehef moet word nie.
“Ongeag watter maatreëls uiteindelik getref word, verdien alle begunstigdes van toelaes, waar hulle ook al woon, om die volle toelae te kan gebruik om hulself en hul gesin te onderhou.”