Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Geld vir piekniek, ‘modelle’, sokker . . .

Mongameli Bobani, burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro (NMBM), word van magsmisbruik beskuldig ná sy besteding van etlike miljoene rand uit sy diskresionêre fonds.

Die piekniek. Mongameli Bobani, burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro (NMBM), het hiervoor R1,5 miljoen aan Zolani Feni se Feni Z Trading Enterprize, geskenk.

Sy teenstanders bestempel dit as ’n manier om steun te koop.

Onder die grootste bedrae is R1,5 miljoen vir ’n piekniek aan Feni Z Trading Enterprise en R1,5 miljoen vir ’n bokstoernooi deur Zantsi Showtime Produc­tion in Februarie vanjaar.

Dokumente wat twee weke gelede bespreek sou word op ’n vergadering wat toe afgestel is, onthul Bobani het byna R6 miljoen aan verskeie projekte bestee.

Kiesers is veral boos oor hoe groot die bedrae is, is Vrydag aan Rapport gesê.

Hy het sy begrote bedrag oorskry; iets wat nooit voorheen gebeur het nie.

Dit sluit in:

* R180 000 aan die Blackburn Rovers-sokkerklub om na Bloemfontein te reis vir ’n sokkertoernooi van 3 tot 5 Mei;

* R150 000 aan die niewinsgewende organisasie Nothing About Us Without Us vir ’n geleentheid van 1 tot 3 Maart in Jeffreysbaai, waar alkohol- en dwelmmisbruik en kinderverwaarlosing bespreek is;

* R180 000 aan die Reformed Church of Christ vir vervoer na ’n konferensie in Durban van 3 tot 5 Mei;

* R60 000 vir ’n Wêreldvigsdag-gospelfees;

* R69 790 vir twee studenteraadslede vir vervoer na Jeugdagvieringe in Soweto;

* R560 000 aan 68 aspirant-sokkerspelers om ’n jeugsokkertoernooi in Junie in Denemarke by te woon; en

* R120 000 vir reis-en-verblyfkoste van twee aspirantmodelle, Aviwe Gqokoma (9) en Ayambuka Ngoma (15), en haar ma, Lungisa, vir ’n skoonheidskompetisie in New York van 18 tot 24 Julie.

Leander Kruger, DA-woordvoerder oor begroting en tesourie in die metro, sê dis ’n onaanvaarbare misbruik van geld.

Die fonds is bedoel vir projekte vir die algemene opheffing van gemeenskappe van die NMBM.

“Burgemeester Bobani het dit verander in ’n persoonlike ‘omkoopfonds’ waaruit hy sy gunstelingprojekte kan finansier en steun kan koop.

“Hy het sy begrote bedrag oorskry, iets wat nooit voorheen gebeur het nie, en hy het ’n bykomende R1 miljoen versoek om te betaal vir projekte waartoe hy hom reeds verbind het.”

Die uitgawes hou ook verband met geld wat in die vorige boekjaar (tot einde Junie) bestee is en kan beduidend meer wees as die besteding sedert Julie in ag geneem word.

Zolani Feni, enigste direkteur van Feni Z Trading Enterprise, sê aan Rapport die Bay Autumn Picnic by Kings Beach in Port Elizabeth was nie net ’n piekniek nie; dit was ’n “groot gebeurtenis” wat mense saamgebring het rondom kos, musiek en kultuur. Ses nasionale en 15 plaaslike kunstenaars het deelgeneem.

Ondanks Bobani se borgskap is kaartjies van tussen R100 en R150 vir die piekniek verkoop.

George Geleba, die burgemeester se woordvoerder, sê die aantyging dat Bobani die fonds as ’n omkoopfonds gebruik, word met minagting verwerp.

Mongameli Bobani

Duidelike riglyne bepaal hoe geld aangewend mag word, sê hy. Ingevolge reëls van die metro mag die burgemeester geld bestee om onmiddellike verligting te verleen aan individue of groepe wat swaarkry.

Hy mag ook daaruit bystand verleen aan maatskaplike, sport- of gemeenskapstrukture wat hulp vra.

Dis volgens Geleba ook onwaar dat Bobani sy fonds vir die vorige finansiële jaar opgebruik het en vra dat ’n verdere R1 miljoen aan die fonds toegeken word.

“Die burgemeester se kantoor het bykomende geld aangevra om personeel aan te stel, en R2,3 miljoen is as ’n tydelike maatreël van die burgemeester se diskre­sionêre fonds oorgedra vir dié doel.”

Hy sê die diskresionêre fonds beloop R4,8 miljoen.

Geleba het Vrydag nog gewag op die bedrae wat die vorige burgemeester, Athol Trollip, uit sy diskresionêre fonds bestee het, het hy gesê.

* Op Maandag se raadsvergadering gaan nog ’n poging aangewend word om Bobani met ’n mosie van wantroue uit die burgemeestersamp te kry.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.