Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
‘Geldgierigheid van sekeres haal Vrystaat lelik in’
Tammy WesselsFoto: Netwerk 24

Die Vrystaatse ekonomie gaan agteruit en dit hou op kort en lang termyn nadele vir die provinsie in, sê die Vryheidsfront Plus.

Met die nuwe planne vir grondonteiening, plaasaanvalle wat erger is as ooit en die grondgrypery wat reeds begin, is die landbousektor onvoorspelbaar, het Tammy Wessels van die Vryheidsfront Plus in die provinsiale begrotingsdebat in Bloemfontein gesê.

Dit bedreig die voortbestaan van die Vrystaat.

Die land én die provinsie se begroting is jaarliks onder groter druk.

“Die begrotingstekort en die opgelope uitgawes wat by die jaar groter word, is ’n geweldige bron van kommer.

“Ná 24 jaar van ’n ANC-bewind en eie belang is die geldgierigheid van sekere mense besig om die provinsie lelik in te haal.”

Sy het gesê die regering se taak is nie om werk te skep nie.

“ ’n Regering se taak is om ’n gunstige klimaat te skep en regulasies in te stel wat ’n ekonomie sal stimuleer. ’n Mededingende ekonomie sal entrepreneurskap bevorder en aanmoedig.

“Dit sal weer werk skep en dus nie net ’n geldinspuiting vir die land en ons provinsie wees nie, maar werkloosheid van meer as 30% help oplos.

“Dit is egter nie wat aan die gebeur is nie. Infrastruktuur is broodnodig om ekonomiese groei te bewerkstellig.”

Wessels het gesê munisipaliteite en departemente het steeds nie realistiese begrotings nie.

“Begrotings wat baie groter is as die bedrae wat werklik beskikbaar is, word opgestel. Dit lyk asof professionele kennis op die gebied ontbreek.”

Deur die staat se werkskeppingspoging en opgepofte personeelstrukture gaan die begroting ook nie vir die nodige projekte en dienslewering vir die mense van die Vrystaat sorg nie.

“Dit gaan eerder vir salarisse vir munisipale en departementele personeel.”

Dit is tyd dat munisipaliteite en departemente die gereedskap gegee word om hulle uit die moeilikheid te kry sonder dat die tesourie heeltyd pa moet staan vir hul swak bestuur en powere finansiële besluite.

“Dit is goed dat Eskom, die waterrade en ander krediteure opstaan en sê genoeg is genoeg. Maar dit is verkeerd dat die betalende inwoners daaronder moet ly en moet boet vir die munisipaliteite se wanbetaling. Die munisipaliteite moet gestraf word en nie die inwoners wat hulle water-en-ligte-rekeninge getrou betaal nie.”

Wessels het gesê dit is tyd dat munisipaliteite ook teen hul eie debiteure opstaan.

Voorwaardelike toelaes vir infrastruktuur aan munisipaliteite en departemente gaan verlore omdat die geld nie bestee word nie. Tog word miljarde rande maandeliks aan salarisse bestee. “Daar is dus nie ’n tekort aan personeel nie, maar ’n tekort aan kundigheid.”

Binnekort gaan nie net Ramkraal, die nasionale erfenisgebou wat die wetgewergebou moes word, vervalle staan nie, maar sal die hele Vrystaat ’n bouval van ’n vorige suksesvolle tydperk wees.

Dié tydperk is gekenmerk deur suksesvolle landbouprojekte.

Landbouaktiwiteit het in die laaste paar jaar afgeneem, terwyl die landbou-opbrengs in die res van die land geweldig toegeneem het.

“Daar is egter 13 000 poste in die sektor geskep, maar indien landbou nie gestimuleer word en dit weer ’n volhoubare sektor word nie, wat word van die werkers en die talle ander wat dan sonder ’n werk gaan sit?”

Meer oor:  Tammy Wessels  |  Vf Plus  |  Vrystaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.