Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
George: DA dien verslag by polisie in

Die DA het Woensdag ’n verslag oor ’n forensiese ondersoek na beweerde korrupsie in die George-munisipaliteit by die polisie ingedien as deel van die ondersoek teen die burgemeester, Melvin Naik, en ander amptenare wat by korrupte bedrywighede betrek word.

Geordin Hill-Lewis, die DA se kiesafdelingshoof in George, het omstreeks 10:00 by die polisiekantoor in George aangekom en is ingewag deur lede van die media en raadslede van die DA en opposisiepartye soos die ANC, Icosa (Independent Civic Organisation of South Africa) en die VF Plus.

Die DA het Dinsdag in ’n verklaring bekend gemaak hy gaan Naik skors na aanleiding van die forensiese verslag.

Geordin Hill-Lewis, die DA se kiesafdelingshoof in George, Woensdag buite George se polisiestasie. Foto: Jackie Kruger

Die ondersoek is gelas deur Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering.

Die verslag bevat onder meer twee ernstige bevindings wat verband hou met beweerde korrupsie en inmenging in die administratiewe proses.

Die bevindings word gestaaf deur bekentenisse deur betrokke individue en omstandigheidsgetuienis.

Melvin Naik Foto: Verskaf

Hill-Lewis het buite die polisiekantoor gesê Naik het glo omkoopgeld ontvang wat verband hou met die War on Waste-projek. Daar is na bewering ook ingemeng met die administratiewe proses toe ’n familielid van Naik aangestel is. Naik is die enigste raadslid wat in die verslag geïmpliseer word. Die ander is amptenare.

Hill-Lewis het later in ’n verklaring gesê hy het die verslag oor die ondersoek ingedien in die uitvoering van ’n strafregtelike ondersoek teen Naik en ander wat betrek word by beweerde aktiwiteite en die inmenging in die administratiewe proses.

Volgens hom is die DA verbind tot skoon regering en sal hy nie toelaat dat enige openbare verteenwoordiger sy reputasie skade aandoen nie. Daarom is besluit om daadwerklik op te tree om die DA-administrasie in George se integriteit te beskerm.

Die DA tree ook intern op teen Naik en hy is verwittig van die DA se voorneme om hom te skors.

Naik het tot Donderdag kans om redes te verskaf waarom dit nie moet gebeur nie. Die verslag sal blykbaar volgende week op ’n raadsvergadering dien.

Hill-Lewis het George se inwoners verseker dat alle moontlike stappe gedoen word om enige vorm van korrupsie in DA-regering uit te roei. Inwoners moet vertroue hê waar die DA regeer, is daar geen misbruik van openbare geld nie. Die DA se topprioriteit is om die integriteit en geloofwaardigheid van die regering in George te herstel.

Die George-munisipaliteit het by navraag aangedui dat Naik geen kommentaar te lewer het nie.

Meer oor:  Melvin Naik  |  Geordin Hill-Lewis  |  George
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.