Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Geskorste stadsbestuurder van Mangaung wil hof toe

Adv. Tankiso Mea, geskorste stadsbestuurder van die Mangaung-metro in Bloemfontein, wil hom na die Vrystaatse hooggeregshof wend om sy skorsing tersyde gestel te kry sodat hy met sy pligte kan voortgaan.

Dit kom minder as ’n week nadat die laaste rookwolk van brandende bande in ’n geweldadige dienstebetoging waarin onder meer sy skorsing geëis is, in die wind weggewaai het.

Adv. Tankiso Mea, geskorste stadsbestuurder van die Mangaung-metro. Foto: verskaf

Dié onluste onder die vaandel van die Mangaung Community Concern (MCC)-groep, het groot dele van Bloemfontein verlede week by tye verlam en groot skade aan eiendom veroorsaak.

Mea gaan die hof glo in ’n dringende aansoek vandeesweek nog vra dat die spesiale virtuele raadsvergadering van die metro verlede Vrydag waarop daar op sy skorsing as stadsbestuurder besluit is, onregmatig en strydig met die wetlike voorskrifte verklaar word.

Mea vra glo ook dat die hof die metro en sy waarnemende burgemeester, Lebohang Masoetsa, en die speaker, Mxolisi Siyonzana, opdrag moet gee om hom dadelik weer in sy pos as stadsbestuurder te stel.

As alternatief vra hy glo dat die inwerkingstelling van sy skorsing opgeskort word hangende ’n aansoek wat hy by die hof wil indien om die skorsingsbesluit van die metroraad op hersiening te neem

Mea beweer glo in sy hofaansoek dat die metroraad onder die druk van die gemeenskap oor die oproer en dreigemente van Thembeni Nxangisa, Vrystaatse LUR vir die departement samewerkende regering en tradisionele sake, geswig en toe die onregmatige weg gevolg het.

Nxangisa het glo die metro met regsoptrede gedreig indien Mea nie geskors word nie.

Mea het tot dusver glo nog geen amptelike kennisgewing ontvang dat hy geskors is nie. Hy het glo nog net vandeesweek ’n brief gekry dat die metro voornemens is om hom voorlopig te skors weens ’n ondersoek na beweerde wanadministrasie en wangedrag.

Die virtuele spesiale vergadering verlede Vrydag is boonop direk op die metroraad se Facebook-blad uitgesaai waarop die speaker ná die uitkoms van die stemmery gesê het dat Mea geskors is. Dit was dus in die openbare domein.

Na verneem word, het Mea reeds ’n prokureursbrief laat stuur waarin hy die metro tot die afgelope Maandag kans gegee het om sy skorsing op te hef, anders gaan hy hom tot die hof wend. Die metro het uitstel tot Woensdag gevra om daarop te antwoord

Meer oor:  Adv. Tankiso Mea  |  Mangaung-Metro
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.