Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Geslagsgeweld: NMB-metro verf graffiti by stadsaal toe

Die ingang na die stadsaal in Port Elizabeth was Vrydagoggend oortrek met graffiti teen geweld teen vroue en kinders.

Dit is die tweede ikoniese gebou in die stad waar soortgelyke graffiti teen die buitemure aangebring word.

Verlede week is die hooggeregshof geteiken, maar anders as dié gebou waar die graffiti steeds te sien is, was die meeste van die graffiti by die stadsaal reeds voor middagete toegeverf.

Graffiti teen geslagsgegronde geweld is Vrydagoggend teen die pilare, deure en trappe by die ingang van die stadsaal in Port Elizabeth aangetref. Foto: Verskaf

’n Man wat die graffiti met wit verf bedek het, het Vrydagoggend voor die stadsaal gesê hy is ’n munisipale werker en het opdrag gekry om die graffiti toe te verf.

Mthubanzi Mniki, ’n woordvoerder vir die Nelson Mandelabaai-metro, het in reaksie gesê die metro het simpatie met die standpunt wat teen geslagsgegronde geweld ingeneem word en steun dit. Maar dié soort optrede “is onaanvaarbaar”.

“Die metro het nog altyd sy steun aan vroue gegee en veroordeel enige vorm van aanranding en moord op vroue. Net verlede week het ons op ’n byeenkoms ’n beroep op mans gedoen om te help in die stryd teen die aanranding van vroue en kinders.”

Hy sê die metro veroordeel egter die graffiti-voorval ten sterkste. “Die vraag is nou waar was die veiligheidswagte toe dit gebeur het? Dit sal ondersoek word,” het Mniki gesê.

Hy het nie geantwoord op die vraag of ’n saak van vandalisme by die polisie aanhangig gemaak sal word nie.

Enkele ure later het ’n munisipale werker die graffiti met wit verf toegeverf. Foto: Lulama Zenzile

Intussen het die polisie en die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) van die Mountweg-polisiegebied Vrydag ’n veldtog gelei om standpunt in te neem teen geslagsgegronde en xenofobiese geweld.

Polisiebeamptes en lede van die GPF het Vrydagoggend in spitsverkeer by verkeersligte pamflette aan motoriste uitgedeel en kortliks elkeen se samewerking in die stryd teen dié misdade gevra.

Slegs enkele tekens van die rooi spuitverf was nog teen Vrydagmiddag aan die mure van die stadsaal in Port Elizabeth te sien. Foto: Lulama Zenzile

Timothy Hendricks, voorsitter van die Mountweg-polisiegebied se GPF, was een van die dryfkragte agter die veldtog. Hy wil hê dit moet die begin van ’n kettingreaksie wees.

“Ons kan nie net van die polisie verwag om ’n verskil te maak in dié soort misdaad nie. Daar moet ook ’n verskil in die gemeenskap wees. In ons huise moet ons leer om mekaar te respekteer en nie geweld aan te moedig nie.”

Genl.maj. Thembisile Patekile, bevelvoerder van die Mountweg-polisiegebied, het ook pamflette uitgedeel en erken daar is ’n probleem in die gebied ten opsigte van hierdie soort misdaad.

“Selfs een voorval is te veel. Daar moet geensins geweld teen vroue en kinders wees nie, veral nie van mans af nie.”

Die stad se noordelike voorstede, wat deur bendegeweld gekenmerk word, is volgens Patekile een van die brandpunte van geslagsgegronde geweld.

Hy sê hul fokus is op dié gebiede, maar die polisie hou ook hul oog op die res van die stad aangesien dit enige plek kan voorkom.

“Ja ons fokus op die noordelike gebied, maar dan gebeur daar ’n voorval soos dié in Somerstrand waar ’n man sy vrou skiet terwyl hulle (huweliks)probleme het – dit terwyl ons volgens ons statistieke nie op daardie gebied hoef te fokus nie. Enige voorval in enige gebied is onaanvaarbaar.”

In die voorval waarna Patekile verwys, is ’n 36-jarige vrou ten aanskoue van haar drie kinders in die gesig geskiet deur haar 50-jarige eggenoot.

Die egpaar, albei mediese dokters, was besig om te skei en die vrou het elders gewoon. Die dag van die voorval was sy saam met haar suster by die huis om ’n paar goed op te laai. Die vrou het die voorval oorleef en die man is weens poging tot moord in hegtenis geneem. Hy is steeds in aanhouding.

* ’n Optog teen geweld word Saterdag om 12:00 in die parkeerterrein by Koningstrand in Port Elizabeth gehou.

Genl.maj. Thembisile Patekile, bevelvoerder van die Mountweg-polisiegebied, deel Vrydagoggend pamflette oor geslagsgegronde geweld uit aan motoriste in die Kabegapark-gebied van Port Elizabeth. Foto: Lulama Zenzile
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.