Go George, dié dorp se openbare busdiens, het Vrydag ’n beperkte diens hervat nadat taxigeweld vandeesweek uitgebreek het en die diens telkemale opgeskort moes word.
Go George het Vrydag in ’n verklaring gesê hy het te midde van die intimidasie van van sy personeellede en passasiers deur betogers wel die afgelope week probeer om ’n beperkte diens te lewer.

’n Bus van die Go George-busdiens. Foto: Verskaf
Die situasie is besig om sy tol te eis en net ’n beperkte aantal bestuurders was Vrydag vir diens beskikbaar, lui die verklaring. Daar is gepoog om die hoofroetes met soveel ritte moontlik te diens, maar volgens Go George is dit nie moontlik om by die tydrooster te hou nie.
Donderdag het meer as 100 minibustaxi’s ’n deel van Yorkstraat op George afgesper en die ingang na die depot van Go George se busse en die kantore van die Wes-Kaapse verkeersdepartement versper. Dit is uit protes teen 14 taxi’s wat geskut is. Geen busse kon die depot verlaat nie.
Die taxi-operateurs is later uiteen, maar op die taxistaanplek in die middedorp is minstens 20 mense in hegtenis geneem weens openbare geweld nadat plaveisel glo uitgeruk en omstanders en die polisie met klippe bestook is.
Hulle sal binnekort in die hof op aanklagte van openbare geweld verskyn, sê kapt. Malcolm Pojie, ’n polisiewoordvoerder.
* Minibustaxibestuurders het Maandag hier begin staak en die Go George-busdiens is opgeskort. Woensdag is die busdiens gedeeltelik hervat, maar Donderdag is dit weer opgeskort.
Die George-munisipaliteit het Woensdag ná ’n vergadering met die taxibedryf bekend gemaak dat ’n gesamentlike komitee bestaande uit lede van die stadsraad en die taxibedryf binne sewe dae op die been gebring sal word om aan die kwelpunte aandag te gee.