Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Goeie nuus: Bloemwater maak water vanaand ten volle oop
So is mense in Pellissier in Bloemfontein vir dae verontrief wat by 'n JoJo-tenk moes gaan water haal het.

Bloemwater gaan Dinsdagaand die waterlewering na die Mangaung-metro-munisipaliteit wat dienste aan Bloemfontein, Botshabelo, Thaba Nchu, Dewetsdorp, Wepener en Van Stadensrus lewer, ten volle oopstel.

Dit kom nadat die metro Dinsdag op die punt was om in ’n dringende interdik in die hooggeregshof in Bloemfontein te vra dat Bloemwater weer die water ten volle moet oopstel en die hofstukke al hiervoor opgestel gehad het toe die partye in die hof besluit het om in ’n prokureurskantoor vir oulaas te probeer onderhandel om tot ’n vergelyk te kom.

Van die inwoners in Bloemfontein en die omliggende dorpe in die metro-munisipale gebied het gekla dat hulle nou al vyf dae sonder water in die versengende hitte sit en nie meer herwaarts of derwaarts weet nie.

Dit kom ook na dae se ellelange dramas en verskeie inter-regeringsvergaderings op Sondag en Maandag om oplossings te probeer kry vir die astronomiese waterskuld van R1,1 miljard wat die metro aan Bloemwater skuld, waarby die bedrag in dispuut, te wete R500 miljoen ingesluit is.

Bloemwater het Vrydag om 14:00 die waterlewering na 30% verminder en gesê dat die instelling nie meer met sy bedryfsoperasies sal kan voortgaan oor die wanbetaling van Vrystaatse munisipaliteite nie en dat dit afgeskaal sal moet word.

Rossouw Botes, DA-raadslid, het Dinsdagaand gesê “dis goeie nuus wat ek hoor. Ek hoor vanuit die openbare beskermer (OB) se kantoor dat die water weer Dinsdagaand oopgemaak word.”

Hy het ook gesê daar is probleme met chloortekorte by Maselspoort en dit is waarom die mense van Heuwelsig en ander plekke aan die noordekant van Bloemfontein ook sonder water is.

“Maar die personeel van Maselspoort beweer hulle het te veel water oorgepomp na die suidekant van Bloemfontein om daar te help en dit is waarom die noorde van die stad se krane ook opgedroog het.”

Adv. Mzwakhe Mofokeng, administrateur van die metro wat onder administrasie geplaas is, het ook vir Netwerk24 laat weet dat die waterlewering van Bloemwater se kant ten volle oopgestel word.

“Dit gebeur nog vanaand,” het hy Dinsdagaand gesê.

Rossouw Botes, DA-raadslid, wat bontgestaan het om inwoners se WhatsApp-boodskappe en telefoonoproepe oor die watergebrek in Bloemfontein te beantwoord. Foto: Argiewe
Mzwakhe Mofokeng, die administrateur van die metro.
Thomas Mkaza, die adjunk-administrateur van die metro.Foto: Argiewe
Dr. Limakatso Moorosi, uitvoerende hoof van Bloemwater. Foto: Argiewe

Mofokeng wou nie meer sê nie waarskynlik omdat die ooreenkoms wat die partye bereik het, eers Woensdag in die prokureurskantoor in Bloemfontein onderteken moet word en omdat die saak glo baie sensitief is, het Netwerk24 betroubaar verneem.

Thomas Mkaza, die adjunk-administrateur, het ook gesê: “Daar is nou water. Maar ek kan my nie uitlaat oor die ooreenkomste wat bereik is nie. Dit is ’n interne saak tussen die twee partye.”

Dr. Limakatso Moorosi, uitvoerende hoof van Bloemwater, het nie haar telefoon beantwoord toe sy Dinsdagaand verskeie kere gebel is nie.

Sy het vroeër haar hart teenoor Netwerk24 uitgestort en gesê sy sit in ’n dilemma en kan 400 werknemers van Bloemwater nie meer betaal nie. Sy moes die nasionale departement van waterwese en sanitasie vra om haar te help om hulle salarisse vir Desember, Januarie en Februarie voor te skiet.

Sy het gesê alles gaan oor die wanbetaling van Vrystaatse munisipaliteite wat nie hul waterrekenings by Bloemwater betaal nie en die grootste skuld lê by die metro.

“Dit terwyl die Kopanong-munisipaliteit wat nege suid-Vrystaatse dorpe bedien ons R450 miljoen skuld en die Mantsopa-munisipaliteit wat uit Ladybrand, Exelsior en Tweespruit bestaan ons tussen R1,2 miljoen en R2 miljoen skuld.”

Moorosi het ook gesê dat sy nie meer chloor kan koop om water te suiwer nie omdat daar nie meer geld hiervoor is nie en nog minder vir Eskom die R23 miljoen maandeliks kan betaal vir elektrisiteit by die Bloemwater-entiteit se vier aanlegte.

Dit terwyl die Kopanong-munisipaliteit wat nege suid-Vrystaatse dorpe bedien ons R450 miljoen skuld en die Mantsopa-munisipaliteit wat uit Ladybrand, Exelsior en Tweespruit bestaan ons tussen R1,2 miljoen en R2 miljoen skuld.

Meer oor:  Mangaung-Metro  |  Bloemwater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.