Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Goudveld smeek om hulp by president
Buitebande word gebruik om rioolnetwerke te verstop sodat die water wat dan by mangate oorvloei vir die was van goud gebruik kan word.Foto: Verskaf

Die Vrystaat se naasgrootste munisipaliteit, die Goudveld se Matjhabeng-munisipaliteit, is weens grootskaalse plundering en vandalisme op sy knieë.

Die burgemeester, Nkosinjani Speelman, het ’n dringende versoek aan pres. Cyril Ramaphosa, Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake (Kogta), en Sam Mashinini, LUR vir polisie, paaie en vervoer, gerig om die munisipaliteit te help.

’n Sloot waar ’n elektriese kabel in Welkom gesteel is. Bykans R100 miljoen se verliese is al vanjaar gely weens diefstal en vandalisme. Foto: Verskaf

Die sabotasie by rioolaanlegte en -netwerke dra by tot die rioolkrisis, het Speelman gesê in ’n verklaring wat Maandag uitgereik is.

Sy versoek om hulp kom nadat misdadigers op 15 Augustus op die Thabong-rioolaanleg toegeslaan en elektriese kabels en elektriese pompe gesteel het.

Wagte wat die pompstasie bewaak, sê dit was glo ’n groep swaar gewapende zama-zamas.

Die skade word op R20 miljoen geraam.

Speelman sê inwoners word deur ’n ekologiese ramp bedreig omdat riool oral in woonbuurte opdam.

Die munisipaliteit het R100 miljoen nodig om al die gesteelde kabels en beskadigde rioolaanlegte te herstel.

Thabiso Tsoaeli, munisipale bestuurder, sê hy is bekommerd oor die welstand van die gemeenskap en mense dink die munisipaliteit doen nie sy plig nie.

“Ons is onder beleg,” sê Tsoaeli.

Hy sê sodra instandhoudingspanne rioolstasies herstel het, word dit met buitebande, klippe en matte verstop.

Onwettige delwers blokkeer blykbaar die rioolstelsels om só water in die hande te kry om goud te kan was.

Bokvel Pietersen van die munisipaliteit se veiligheidsafdeling sê die diefstal en vandalisme vind plaas terwyl wagte diens doen.

“Wat is die nut van die wagte as misdadigers maak soos hulle wil,” vra hy.

Pietersen sê hy glo die sindikaat, wat vir die diefstalle verantwoordelik is, sal binnekort aangekeer word.

Speelman het die nasionale regering gevra om die weermag te ontplooi om die polisie te help.

Hy sê daar is 150 000 buitelanders in die gebied en dat statistiek aandui dat hulle meestal vir die diefstal van munisipale eiendom verantwoordelik is.

Die buitelanders kom meestal van Lesotho, Zimbabwe en Mosambiek.

Pietersen het vroeër gesê bykans R60 miljoen se elektriese kabels, pompe en ander koperonderdele is net in twee maande in die gebied gesteel.

Kgojane Matutle, munisipale woordvoerder, sê talle wagte is al vermoor of beseer wanneer hulle probeer om die munisipaliteit se eiendom te beskerm.

Welkom, Virginia, Hennenman, Ventersburg, Allanridge en Odendaalsrus is deel van die munisipale gebied.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.