Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Goudveldse kragkrisis: Vingers wys ook na Eskom

Die Matjhabeng-munisipaliteit se standpunt dat Eskom hom geld skuld en dat nie net die munisipaliteit verantwoordelik is vir die kragkrisis wat in die Vrystaatse Goudveld dreig nie, is Woensdag deur politieke partye gesteun.

Piet Botha, DA-raadslid, sê die kragrekening, wat volgens Eskom nou op R3,4 miljard staan, is al baie lank ’n probleem. Eskom weier volgens hom om met die munisipaliteit te vergader om die geskil by te lê.

Een van die kwessies is dat Eskom regstreeks krag verskaf aan die meeste woonbuurte, asook die plase en myne in die munisipale gebied, terwyl Matjhabeng vir ander dienste verantwoordelik is.

Volgens Botha is ’n ooreenkoms al in 1994 gesluit waarvolgens Eskom ’n bedrag aan Matjhabeng sal oorbetaal uit die geld wat hy vir krag ontvang.

Eskom vra die munisipaliteit R143 000 per maand om drie elektriese meters te lees en R53 000 om die rekening van 14 bladsye aan die munisipaliteit te stuur.

Dit maak nie sin om staatsbates tussen vlakke en entiteite rond te skuif om skuld te delg nie.

Botha sê Eskom hef maandeliks gesamentlik R12 miljoen vir onder meer administratiewe koste, maar gee geen uiteensetting daarvan nie.

Botha sê Vrydag se hofuitspraak in die hooggeregshof in Bloemfontein beteken dat die plase as sekuriteit deur Eskom gehou sal word, maar dat Eskom Matjhabeng se bankrekening weer aan die munisipaliteit moet oorhandig, op voorwaarde dat die geld daarin deur die balju gehou word. Die hof het ook beveel dat die partye binne 21 dae met mekaar moet vergader om die geskil in goeder trou by te lê.

Hy sê die hofbevel dwing Eskom nou om al daardie koste te verduidelik en uitsluitsel te gee sodat daar sekerheid is oor wat presies betaal moet word en waarvoor heffings is.

Botha sê die 139 plase wat as sekuriteit dien, sal keer dat Eskom op ander bates van Matjhabeng beslag lê, maar sal nie die huurders van die plase raak nie.

Armand Cloete, ’n VF Plus-lid van die nasionale raad van provinsies, sê die ooreenkoms met die munisipaliteit wys dat die ANC nie probleme oor grond of staatskuld kan oplos nie.

Hy sê die munisipaliteit kon lankal die grond verkoop het om sy agterstallige skuld aan Eskom en ander skuldeisers te betaal.

Die VF Plus meen dit is sinloos dat ’n munisipaliteit ongebruikte bates behou, terwyl skuld aan krediteure buitensporig en onvolhoubaar toeneem.

Terwyl die ANC en EFF kommersiële boere gereeld as die sondebokke vir die grondprobleem in Suid-Afrika voorhou, is dit duidelik dat die staat in besit is van grond wat nie vir behuising of voedselsekerheid aangewend word nie.

Cloete sê die VF Plus is skepties of dié soort ooreenkomste die skuldprobleem aan Eskom noodwendig sal oplos. Die staat, deur munisipaliteite, skuld homself steeds geld.

Dit maak nie sin om staatsbates tussen vlakke en entiteite rond te skuif om skuld te delg nie.

Rose Nkhasi, president van die Goudveldse kamer van koophandel, sê sakelui is bekommerd dat die geskil tot kragonderbrekings in die gebied kan lei en wag nog op antwoorde van die munisipaliteit.

Sy sê lede trek swaar weens die inperkings wat die ekonomie geknou het en het duidelikheid oor die situasie nodig.

Meer oor:  Eskom  |  Piet Botha  |  Matjhabeng  |  Kragkrisis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.