Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Groot dele van Polokwane weer sonder water

Groot dele van Polokwane het vir die tweede keer in minder as twee weke weer nie water nie.

Plasse water het Sondag op die grasperke by die Peter Mokaba-stadion in Polokwane gevorm nadat die munisipaliteit sy sproeiers oopgemaak het. Foto: Verskaf

Die Polokwane-munisipaliteit sê hy is afhanklik van Lepelle Northern Water, wat water aan die stad verskaf.

Volgens Lepelle Northern Water kon die Olifantspoort-wateraanleg nie Maandag en Dinsdag aangeskakel word nie weens onwettige betogings in die gebied. Die betogings het Maandag begin in die Tswaing- en Lehlokwananeng-gebiede buite Polokwane.

Dit is die soveelste keer die afgelope paar maande dat Lepelle Northern Water beweer die Olifantspoort-wateraanleg kan nie aangeskakel word nie weens betogings.

Die betogers kla glo oor swak dienslewering.

Matshidiso Mothapo, woordvoerder van die Polokwane-munisipaliteit, het Woensdag gesê die Olifantspoort-wateraanleg is Dinsdagnag aangeskakel en water word na die stad gepomp.

“Ons vra die inwoners om geduldig te wees, want die reservoirs is leeg en dit gaan tyd neem om vol te word.”

Mothapo kon egter nie sê hoekom die vlakke van die stad se reservoirs gereeld laag is nie.

Dit is veral die hoogliggende gebiede van Polokwane soos Bendor, Sterpark, Serala View en Seshego wat gereeld nie water het nie.

Die Dap Naudé-dam, wat Polokwane van water voorsien, is volgens die jongste syfers van die departement van waterwese 102% vol. Die Ebenezer-dam buite Haenertsburg, wat ook ’n waterbron vir Polokwane is, is 86% vol.

Die Ebenezer-wateraanleg is boonop Maandag afgeskakel sodat stukkende pype vervang kan word, sê Mothapo. Dit is nie duidelik wanneer die aanleg weer sal werk nie.

Die Polokwane-munisipaliteit maan inwoners gereeld om nie hul tuine nat te lei of motors te was nie om water te bespaar.

’n Inwoner van die stad het Sondag ’n foto geneem waar sproeiers van die munisipaliteit vir ure aan was om die gras langs die Peter Mokaba-stadion nat te spuit. Die sproeiers was so lank aangeskakel dat groot poele water op die gras gevorm het.

Mothapo kon nie hieroor kommentaar lewer nie.

Volgens die departement van waterwese is Limpopo se damme vandeesweek gemiddeld 72,9% vol.

Meer oor:  Munisipaliteit  |  Polokwane  |  Water
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.