Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Growthpoint ‘oorweeg sy opsies’ oor Kaapse ontwikkeling
’n Hut wat in Desember 2018 deur besetters gebou is op grond in Roggebaai, Kaapstad, wat as Site B bekend staan. Foto: Malherbe Nienaber

Die eiendomsgroep Growthpoint Properties ontken hy het R140 miljoen te min betaal vir ’n stuk grond in Roggebaai, Kaapstad, waarop hy onder meer ’n hotel wil bou.

Hy het dié week in ’n gedetailleerde verklaring uiteengesit hoe sy verkryging van die grond verloop het en ook verduidelik hoe drukgroepe op die bedrag wat hy glo te min betaal het, uitgekom het.

Hy verskil van hul berekening.

Intussen het die munisipale beplanningstribunaal vroeër vandeesmaand Growthpoint se aansoek om die perseel te ontwikkel, afgekeur omdat “dit nie seker is wat die perseel se ontwikkelingsregte is nie”.

Growthpoint sê hy oorweeg die bevinding. Daar is ’n aantal opsies tot sy beskikking; waarvan een is om appèl aan te teken, “wat ons waarskynlik sal doen”.

Growthpoint het die grond, wat aan die onderpunt van Lang- en Loopstraat in die middestad geleë is en as Site B bekend staan, in September 2016 vir R86,5 miljoen op ’n veiling gekoop.

Growthpoint sê in sy verklaring toe hy die grond gekoop het, was hy onder die indruk dat daar ontwikkelingsregte van 17 500 m2 op die perseel is, maar dit het later geblyk daar was inderwaarheid ontwikkelingsregte van 46 000 m2 daarop.

Growthpoint sê in sy verklaring toe hy die grond gekoop het, was hy onder die indruk dat daar ontwikkelingsregte van 17 500 m2 op die perseel is.

“ ’n Soneringsertifikaat wat van die Kaapstad-metro het dit bevestig.”

Die drukgroepe gebruik dié verskil om eenvoudig die koopprys met 17 500 te deel en dan met 46 000 te maal om op hul berekening dat hy R140 miljoen te min betaal het, uit te kom.

Growthpoint verduidelik in sy verklaring dit is nie sinvol om die prys so te ekstrapoleer nie. Hy sê hy het op 1 Desember verlede jaar ’n onafhanklike waardasie vir die eiendom gekry gegrond op ontwikkelingsregte vir 46 000 m2, waarvolgens die eiendom R92 miljoen werd was.

Hy wil ’n gebou vir gemengde gebruik hier oprig, met kleinhandel op die grondvloer, kantore en ’n hotel.

Lede van die drukgroepe Reclaim the City en Social Justice Coalition het die grond in Desember verlede jaar beset en geëis dat dit eerder vir bekostigbare behuising gebruik moet word.

Die Kaapstad-metro het besluit om nie ’n forensiese verslag na beweerde ongerymdhede met die verkoop van die grond bekend te maak nie. Netwerk24 het vroeër berig die ondersoek het geen ongerymdhede onthul nie.

Lees ook: Metro weerhou verslag oor grond wat teen ‘afslag’ verkoop is

Growthpoint sê in sy verklaring hy is ten gunste daarvan dat die verslag wel bekend gemaak word.

Die ontwikkeling bly in die weegskaal en Growthpoint sê dit sal ’n jammerte wees as dit nie gebeur nie.

“In ’n tyd dat Suid-Afrika beleggings nodig het, sal die ontwikkeling ’n belegging van ongeveer R2,2 miljard in Kaapstad wees.”

Daarbenewens sê Growthpoint 1 000 werkgeleenthede sal geskep word tydens konstruksie, met 300 langtermynwerkgeleenthede in die hotel, en altesaam tot 2 500 werkgeleenthede op die eiendom.

Growthpoint sê ook die hotel sal toeriste lok en hy sal sowat R16 miljoen belasting per jaar aan die Kaapstad-metro moet betaal indien die ontwikkeling toegelaat word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.