Die Johannesburg-metro het die bykomende maandelikse heffing op voorafbetaalde krag teruggetrek waarvoor inwoners en ondernemings van 1 Julie af sou moes opdok.
Dié heffing sou beteken dat huishoudings en ondernemings, nog voordat hulle ’n enkele eenheid elektrisiteit verbruik het, onderskeidelik R200 en R402 per maand vir voorafbetaalde krag moes betaal. Dit is benewens die 13,7%-tariefverhoging op elektrisiteit wat op 1 Julie in werking getree het.
Volgens Funzela Ngobeni, lid van die burgemeesterskomitee vir finansies, het die Johannesburg-metro egter besluit om dié heffings op te skort.
Die heffing was op huise en ondernemings van toepassing wat teen meer as R350 000 gewaardeer is.
Die bykomende heffings het nie deel gevorm van City Power se aansoek nie. Die bykomende heffings val buite Nersa se mandaat en sou dus in elk geval nie oorweeg geword het nie.
Ngobeni sê ondanks die raad se goedkeuring van die nuwe tariewe, het hulle besluit om die heffings op te skort nadat verskeie openbare vergaderings daaroor gehou is.
“Ons het na verbruikers se bekommernisse geluister. Hoewel ons die heffings as korrek beskou, kan ons nie die pleidooi van inwoners om verligting ignoreer nie. Daar is interne aanpassings met verwysing na kostedoeltreffendheid gemaak en verbruikers sal nou hieruit voordeel trek.”
Die Johannesburg-metro se verhoogde tariewe wat sedert 1 Julie van krag is, sluit ’n verhoging van 5,5% op erfbelasting, 13,7% op elektrisiteit, 7% op vullisverwydering en 9,9 % op water in.
“Die verhoging is binne die inflasiedoelwitte en laer as die voorgestelde tariefverhogings deur Nersa (die Nasionale Energiereguleerder), Eskom en Randwater,” sê Ngobeni.
City Power het gesê die bykomende heffings is nie deel van Nersa se mandaat nie en Nersa se goedkeuring was dus nie nodig nie.
Die nasionale energiereguleerder (Nersa) het Dinsdag gesê die bykomende maandelikse heffing op voorafbetaalde krag wat nou deur die Johannesburg-metro teruggetrek is, het nie binne die omvang van Nersa se mandaat geval nie.
“Die bykomende heffings het nie deel gevorm van City Power se aansoek nie. Die bykomende heffings val buite Nersa se mandaat en sou dus in elk geval nie oorweeg geword het nie,” het Charles Hlebela, Nersa-woordvoerder, gesê.