Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Harrismith: Ondernemings wil vir verliese vergoed word

Meer as 20 sakeondernemings in Harrismith se nywerheidsgebied het hulle nou tot onder andere pres. Cyril Ramaphosa gewend nadat hulle Donderdag vir die 12de opeenvolgende dag sonder krag was.

Die gemeenskapsgroep HIT (Harrismith, Intabazwe en Tshiame) het  ’n brief aan verskeie hooggeplaastes, onder andere Ramaphosa en Sisi Ntombela, Vrystaatse premier, gerig oor die kragkrisis hier.

Hierin waarsku hulle dat van die ondernemings hul deure sal moet sluit weens die munisipaliteit se “onvermoë om elektrisiteit op ’n volhoubare en betroubare manier te verskaf”.

Hulle eis vergoeding vir onder meer die onkoste wat hulle moet aangaan om hul eie krag op te wek.

Die huidige probleme het op Sondag 4 April begin, toe daar blykbaar kabeldiefstal by Eskom se substasie was, wat tot skade aan munisipale infrastruktuur gelei het. Weens die Gesinsdag-vakansiedag die volgende dag kon die munisipaliteit eers die Dinsdag ’n kontrakteur begin soek om die herstelwerk te doen, maar toe tref weerlig die infrastruktuur, wat nog meer buurte sonder krag gelaat het.

Boonop was daar ander vertragings in die aanstelling van die kontrakteur, wat toe eers op Vrydag 9 April met die herstelwerk begin het.

Die grootste deel van die nywerheidsgebied Hardustria is sedert 4 April sonder krag, terwyl die krag van ander gebiede wat deur die kragonderbrekings geraak is, van die afgelope Sondag af en deur die loop van die week herstel is.

Evelyn Duperron, ’n woordvoerder van HIT, sê hulle raak uiters bekommerd oor die situasie. Daar is reeds ondernemings wat gesê het hulle sal hul deure moet sluit weens die kragkrisis.

Elize da Silva, eienaar van die Maloti Truck Centre in Hardustria wat hersteldienste aanbied en ’n vragmotorhalte het, sê sake-eienaars voel die gebied staan telkens laaste in die ry wanneer daar kragprobleme is.

“Ons meen die Maluti-a-Phofung-munisipaliteit kan nie ondernemings laaste plaas nie, want ons skep werkgeleenthede. Jy kan doodeenvoudig net nie so aanhou nie.

“Die vorige keer in Desember het hulle ons vir 30 dae (sonder krag) gelos,” sê Da Silva.

Haar onderneming bestee tussen R2 800 en R3 000 per dag aan brandstof vir kragopwekkers as die krag af is en moet ook werk wegwys.

HIT sê in sy brief ondernemings “het niks meer geld nie en die enigste manier vorentoe is om vergoed te word vir die onlangse finansiële verliese en skade wat oor die afgelope dae gely is.

“Dit is na raming van R3 800 tot R5 000 per dag per onderneming wat op brandstof verlore gaan om hul eie krag op te wek.”

Volgens HIT beloop die ondernemings se koste aan brandstof vir kragopwekkers tot op die 11de dag van die kragonderbreking gesamentlik tot R1,1 miljoen.

Dit sluit ander verliese uit.

Die groep hoop die probleem word dringend opgelos.

HIT gaan die finale syfers van skade en verliese van elke onderneming in dié tyd aan die munisipaliteit stuur en hoop die ondernemings sal so gou moontlik vergoed word.

Basie Ungerer, direkteur van infrastruktuur van die munisipaliteit, het nie Netwerk24 se oproepe of boodskap Donderdag beantwoord nie.

Meer oor:  Cyri Ramaphosa  |  Harrismith  |  Vrystaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.