
Wasgoedlyne word deur hawelose mense by die Uitenhage-stadsaal tussen geboue gespan. Foto: Verskaf
Bewerings dat die Uitenhage-stadsaal deur hawelose mense verrinneweer word, word deur die Nelson Mandelabaai-metro ondersoek.
Dié stadsaal huisves bykans 50 hawelose mense en is een van vele gemeenskapsale in die metro wat gedurende die staat van inperking as tydelike skuiling ingerig is.
Francois Greyling, ’n raadslid, het verlede week die stadsaal besoek nadat ’n bekommerde inwoner hom oor die stand van sake gekontak het.
Greyling sê daar is onder meer verstopte toilette, rioolpype wat lek, mense wat in die gebou rook, geen skeidings tussen matrasse nie en afvalkos wat rondlê.
Hy het ook geen veiligheidswagte of amptenare van maatskaplike dienste teëgekom nie, sê hy.
Boonop het nie een van die hawelose mense ’n masker aan gehad nie en is daar geen toegangsbeheer nie.

Dreine en rioolpype lek rondom die Uitenhage-stadsaal waar bykans 50 hawelose mense gehuisves word. Foto: Verskaf
Hy sê sake word vererger deurdat inwoners hul wasgoedlyne tussen die stadsaal en aangrensende geboue span en sodoende pype en kabels beskadig.
“Die punt wat ek probeer maak, is duidelik. Die stadsaal is nie geskik vir mense om in te woon nie, en loop ook die gevaar van verdere agteruitgang, vandalisme en diefstal weens ’n gebrek aan beheer,” sê Greyling in ’n brief aan die stadsbestuurder.
Hy stel voor hawelose mense moet eerder by die plaaslike rugbystadion gehuisves word, waar genoeg toilette en storte beskikbaar is.
Makhi Feni, burgemeesterskomiteelid vir menslike hulpbronne en korporatiewe dienste, het Maandag gesê hy is bewus van die aantygings en het reeds een van sy departement se direkteure opdrag gegee om ondersoek in te stel.
Die lekkende rioolpype en verstopte toilette kan dadelik aandag van die munisipale loodgieters geniet, het Feni gesê, terwyl enige vorm van misdaad deur die polisie hanteer sal word.
Feni het ontken dat daar nie veiligheidswagte by die stadsaal is nie en sê wagte is by elkeen van die gebiede ontplooi waar hawelose mense tydelik gehuisves word.
“Ek wag nou op terugvoering sodat ek weet wat die situasie is. Ons het mense gestuur om ondersoek in te stel en ek behoort teen Maandagmiddag laat ’n verslag met terugvoering te ontvang, wat ek Dinsdag met die res van die amptenare sal bespreek om ’n weg vorentoe te bepaal,” sê Feni.