Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
‘Haweloses se persoonlike besittings nié afgevat’

Dit is nie die metroraad se verantwoordelikheid om skuilings te bou of te bedryf nie. Nogtans het die metroraad in Junie 2018 die Culemborg Safe Space vir straatmense naby die Kaapstadse treinstasie geopen, sê Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid.

Hawelose mense slaap op ’n sypaadjie onder ’n brug. Foto ter illustrasie. Foto: Getty Images/iStockphoto

Dit kan oornag skuiling bied aan tot 230 mense en bystand word gebied om hulle met die samelewing te herintegreer.

Hulp van enige aard word egter dikwels van die hand gewys, is die ervaring in die metro.

Navrae oor die getal nagskuilings in Kaapstad en hoeveel mense gehuisves kan word, is na die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling verwys.

Die getal haweloses in die stad is laas in 2015 ná ’n opname op 7 000 geraam, waarvan die meeste in die middestad en naby stasies vir openbare vervoer aangetref word.

Dit blyk egter dat daar tans net sowat 2 000 – of selfs minder – beddens in nagskuilings in Kaapstad is.

Richard Bosman, uitvoerende direkteur van veiligheid in Kaapstad, sê wetstoepassingsbeamptes van die metroraad sal nie die persoonlike besittings van haweloses verwyder en laat wegry nie.

Die Menseregtekommissie (MRK) het Woensdag gesê haweloses beweer al hul besittings word soms afgeneem en agterop ’n voertuig gegooi wanneer wetstoepassers hul strukture afbreek of hulle uit openbare ruimtes verwyder.

Dit sluit in hul ID’s, kliniekkaarte, Sassa-kaarte, medikasie en ander persoonlike besittings.

Die MRK het aangekondig dat hy die polisiëring van Kaapstad se verordenings gaan ondersoek, asook onlangse voorvalle waar hawelose mense beboet is.

Bosman het Donderdag gesê die metroraad stel nie self die bedrae van die boetes vas nie. Dit word deur ’n landdros vasgestel aan die hand van insette en versoeke van die munisipaliteit.

Hy het vroeër in die week gesê mense wat nie boetes betaal nie, sal in die hof moet verskyn en die uitslag van die saak is dan in die hande van die aanklaer en die landdros.

“Bepalings in verband met erkenning van skuld word ingevolge die Strafproseswet deur senior landdroste gemaak, wat kwartaalliks vergader om bydraes in dié verband te oorweeg.”

Volgens Bosman word die erns, voorkoms en omvang van oortredings oorweeg, sowel as afskrikking, voorkoming en die gepaste straf.

Bepalings in verband met erkenning van skuld word ingevolge die Strafproseswet deur senior landdroste gemaak, wat kwartaalliks vergader om bydraes in dié verband te oorweeg.
Richard Bosman, uitvoerende direkteur van veiligheid in Kaapstad

Die metroraad het Dinsdag gesê hy het in die eerste drie maande van die jaar 3 051 klagtes van die publiek oor antisosiale gedrag deur straatmense ontvang.

Daar is ook 199 boetes in dié tydperk opgelê weens oortredings van die stad se verordeninge.

Vandeesweek is berig dat boetes van R300 tot R800 en meer aan hawelose mense uitgereik is, grootliks in verband met oortredings van die metroraad se verordening van 2007 oor strate, openbare ruimtes en geraas-steurnis.

Die provinsiale departement van maatskaplike ontwikkeling het Woensdag gesê hy finansier 31 skuilings vir hawelose volwassenes in die Wes-Kaap gedeeltelik of ten volle, waarin 1 485 beddens beskikbaar is.

Van dié skuilings is 24 in die Kaapstadse metropool.

Joshua Chigome, woordvoerder van Sharna Fernandez, LUR vir maatskaplike ontwikkeling, sê mense in dié skuilings kry ook toegang tot mediese dienste en hulp om aansoek om identifikasiedokumente te doen.

In die boekjaar 2018-’19 is 700 mense met hul families herenig met behulp van die departement.

Die departement sê hy werk saam met nieregeringsorganisasies wat regstreeks bystand aan mense bied om hulle van die strate af te kry, met vaardighede toe te rus, met hul families te herenig en in hul gemeenskappe te integreer.

Ten spyte van hul pogings, vind die wetstoepassers en werkers dat baie straatmense hulp weier.
Smith en Badroodien se verklaring

Sommige van die organisasies deel ook matrasse, komberse, kos en toiletware uit.

Verder bied die departement se wintergereedheidsprogram R47,6 miljoen aan skuilings en word R16 miljoen toegewys aan dienste om families te herenig.

Badroodien en JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, het Dinsdag in ’n verklaring beklemtoon dit is nie onwettig om haweloos te wees nie en dat straatmense se bewegingsvryheid in die Handves van Regte beskerm word.

Die metroraad se wintergereedheidsprogram het vanjaar R699 000 beskikbaar gestel om komberse, matrasse, kos en toiletware aan nieregeringsorganisasies te verskaf sodat hulle meer haweloses in dié tyd kan bystaan.

“Ten spyte van hul pogings, vind die wetstoepassers en werkers dat baie straatmense hulp weier,” lui Smith en Badroodien se verklaring.

Hulle sê “die dinamika op ons strate” verander as gevolg van meer mense wat op parool vrygelaat word en al meer buitelanders wat hulle op straat bevind.

“Dié veranderings vereis meer konsekwente optrede, daarom probeer ons ’n beter balans tussen die wetstoepassing van verordenings en ons maatskaplike dienste te vind.”

Meer oor:  Menseregtekommissie  |  Kaapstad  |  Haweloses
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.