Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Hessequa trots op nog ’n skoon oudit

Die Hessequa-munisipaliteit is trots op sy skoon ouditverslag van die ouditeur-generaal (OG) vir die 2018-’19-boekjaar.

Die munisipaliteit sê dit is die sesde opeenvolgende jaar dat hy dié uitsonderlike prestasie behaal.

Grant Riddles, Hessequa se burgemeester. Foto: Verskaf

Hessequa sluit gewilde vakansiedorpe in soos Stilbaai en Witsand.

Volgens die Hessequa-munisipaliteit is hy die enigste van die sewe munisipaliteite in die Garden Route-distriksmunisipaliteit (GRDM) wat ’n skoon oudit ontvang het.

’n Skoon oudit beteken onder meer dat die finansiële state ’n redelike weerspieëling is van finansiële stand en prestasie van die munisipaliteit en dat die prestasieverslaggewing in orde is.

Volgens Lien Viljoen, direkteur van finansiële dienste van die Hessequa-munisipaliteit, het die munisipaliteit ’n ongekwalifiseerde en “skoon” oudit in 2013-’14 ontvang en sedertdien gehandhaaf.

Sy sê ’n skoon oudit is in pas met die munisipaliteit se doelwit om ’n skoon administrasie te handhaaf wat gekenmerk word deur goeie regering, die nakoming van finansiële vereistes en goeie interne beheer.

Grant Riddles, Hessequa se burgemeester, het sy waardering uitgespreek teenoor die raad, die munisipale bestuurder, direkteure en die personeel vir hul harde werk en toewyding.

Volgens Johan Jacobs, Hessequa se munisipale bestuurder, is die prestasie moontlik gemaak deur die raad wat die administrasie die ruimte gegee het om hul werk te doen en die gemeenskap te dien.

Die munisipaliteit sê ’n ongekwalifiseerde oudit is van groot belang om die vertroue van die gemeenskap in munisipaliteite te herstel en te bewys dat die toepassing van suiwer administrasie, harde werk en deursettingsvermoë beloon word, en is ’n pluimpie vir toegewyde spanwerk en streng finansiële dissipline.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.