Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Heuwelsig: Herstel hopelik in sig

Die waternagmerrie wat die Heuwelsig-reservoir in Bloemfontein vir inwoners veroorsaak, se einde is hopelik in sig.

Die reservoir se elektroniese toerusting is langer as ’n jaar gelede deur vermoedelik weerlig beskadig en sedertdien loop inwoners onder óf oorstromings óf droë krane deur.

Prof. Fief van der Merwe, DA-raadslid, sê ten einde raad het hy Sondag vir Olly Mlamleli, uitvoerende burgemeester van die Mangaung-metro, gebel om na die probleem te kom kyk. Geen van sy ander pogings oor die afgelope jaar om die probleem op te los, het enige vrugte gedra nie.

Olly Mlamleli (middel), uitvoerende burgemeester van die Mangaung-metro, besoek Sondag die foutiewe Heuwelsig-reservoir nadat prof. Fief van der Merwe, DA-raadslid (regs) haar gebel het. By hulle is Lawrence McDonald van die ANC. Foto: Verskaf

“Ek het groot waardering dat sy om 13:00 op ’n Sondagmiddag, terwyl ander mense slaap, na die probleem kom kyk het en belowe het dat dit nou reggemaak sal word. Sy het van die perseel af vir Mlondolozi Ndlovu, die metro se departementshoof van infrastruktuur (waaronder ingenieurs val), gebel.”

Die elektroniese probleem veroorsaak dat die reservoir soms oorloop omdat die invloei nie outomaties afskakel nie. Iemand moet die invloei dan met die hand gaan afskakel, maar dikwels eers nadat verskeie huise oorstroom het, met groot skade aan inwoners se besittings.

Van der Merwe sê hy het al probeer om die probleem onder die aandag van adv. Tankiso Mea, die stadsbestuurder, te bring, en dit ook by die openbare beskermer aangemeld.

Telkens as die reservoir oorloop, het hy ’n amptenaar gebel sodat sy kon reël dat die water se invloei met die hand afgeskakel word. Dan het die reservoir weer leeggeloop en het inwoners nie water gehad nie. Iemand moes dan weer die skakelaar met die hand gaan aansit.

Talle inwoners van veral Heuwelsig het by Netwerk24 gekla dat hulle daagliks vir lang tye nie water in hul huis het nie, terwyl ander se huise oorstroom.

Mlamleli het reeds Saterdag by die bekendstelling van die ANC-verkiesingsmanifes aan Netwerk24 gesê sy wil hê die probleem by die Heuwelsig-reservoir moet aandag kry. “Ons mense moet water kry en dit is verkeerd dat daar wateronderbrekings by huise is. Ek gaan dadelik die hoof van die departement en die ingenieurs bel,” het sy toe gesê.

Een van die inwoners het aan Netwerk24 gesê sy is bang sy sal nie haar huis verkoop kry as mense bewus is van die probleme nie.

* Rossouw Botes, nog ’n DA-raadslid, sê daar is 13 gevalle in Bloemfontein waar probleme by reservoirs en drukpompe bestaan weens foutiewe elektronika en tegnologie. ’n Klomp water word vermors as reservoirs oorloop.

Meer oor:  Mangaung-Metro  |  Olly Mlamleli  |  Bloemfontein  |  Waterprobleem
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.