Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Histerie bars los oor Sisi se uitlating oor inperking

Massa-histerie het Dinsdag in Bloemfontein losgebars nadat Sisi Ntombela, die Vrystaatse premier, op ’n Covid-19-perskonferensie in Bophelo House aanbeveel het dat die Mangaung-metro op vlak 4 bly en die res van die provinsie na vlak 3 afskuif.

Sisi Ntombela, die Vrystaatse premier, op die Covid-19-konferensie. Foto: Voight Mokone

Nancy de Sousa, president van die Mangaung-kamer van handel en nywerheid, het kort hierna gesê sy het inwoners en sakelui van Bloemfontein nog nooit so kwaad gesien nie. Sy het die gesprekke op die aanlyn platform Zoom gevolg.

“Almal sê eenvoudig net dit is ondenkbaar.”

Dr. Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie van die Vrystaatse wetgewer, het ook ’n verklaring uitgereik en gesê die party het met groot kommer van die premier se standpunt kennis geneem, terwyl die DA reeds ’n week gelede aan haar geskryf het om te vra dat die hele Vrystaat na vlak 3 of vlak 2 moet afskuif.

“Mangaung bly die grootste bydraer tot die provinsiale ekonomie en die besluit sal tot ’n verdere ekonomiese afplatting lei en groter werkverliese tot gevolg hê.

“Die inperking in die Vrystaat was bedoel om die gesondheidsdepartement genoeg tyd te gee om hom voor te berei vir die ergste scenario’s rakende die korona-virussiekte. Dit was nooit bedoel om ’n permanente vernietiger van mense se lewensbestaan te word nie.”

Jankielsohn sê Gauteng en KwaZulu se Covid-19-statistiek is baie hoër as dié van die Vrystaat, tog het hulle gesê hulle wil na vlak 3 beweeg.

Ntombela het egter gesê die risiko in Mangaung bly baie hoog omdat 141 van die 165 koronavirus-gevalle in die Mangaung-streek was. Twee van die gevalle was in Botshabelo en die ander 139 in Bloemfontein.

Sisi Ntombela, die Vrystaatse premier. Foto: Voight Mokone

Ntombela het ook gesê Covid-19 “gaan vir minstens twee jaar met ons wees”.

“Bloemfontein bly die brandpunt in die Vrystaat en mense moenie onnodig Bloemfontein toe reis nie, maar eerder uit dié stad wegbly om veilig te bly,” het Ntombela gesê.

“Ons mense is geweldig arm en dit is die armstes van armes wat nou die swaarste kry. Maar dit help nie ons het miljarde rande en nie meer ons lewe nie,” het sy gesê.

Kapung Ralikontsane, direkteur-generaal (DG) van die Vrystaatse provinsiale regering, het op ’n vraag van Netwerk24 hieroor gesê daar sal nog by die gesamentlike provinsiale gesondheidsbevelsentrum, van waar die siekte in die Vrystaat bestuur word, gepraat word, asook op ’n gesamentlike platform wat vir alle Vrystaatse regeringsdepartemente geskep is. Dan sal ’n aanbeveling aan pres. Cyril Ramaphosa gedoen word.

Ralikontsane het ook op die vergadering gesê ’n probleem kan geskep word as Mangaung op vlak 4 bly en die ander vier distrikte in die Vrystaat skuif af na vlak 3. ’n Sakeonderneming in byvoorbeeld Sasolburg wat nou op vlak 3 sy deure mag oopmaak, kan dan nie aankope vir sy sakeonderneming in Bloemfontein kom doen nie omdat dié stad nog op vlak 4 is.

Ntombela het gesê die troos is van die 165 gevalle in die Vrystaat het 115 herstel. Ses sterftes was egter almal van Bloemfontein.

Skandering en toetsing gaan voort. Ons loop reg in die koronavirus-oorlog in, maar ek moet sê die provinsie vaar baie goed en daarom wil ek ons dokters en gesondheidswerkers, wat in die voorste linies veg, hiervoor bedank.

“Deur die skitterende werk van ons Vrystaatse gesondheidsdepartement is altesaam 1 352 787 mense geskandeer, wat meer as 40% van die Vrystaatse bevolking is.”

Ntombela het ook gesê 3 302 van die 3 324 mense wat in kontak was met positiewe gevalle, kon opgespoor word.

“Skandering en toetsing gaan voort. Ons loop reg in die koronavirus-oorlog in, maar ek moet sê die provinsie vaar baie goed en daarom wil ek ons dokters en gesondheidswerkers, wat in die voorste linies veg, hiervoor bedank.”

Ntombela het gesê die nasionale gesondheidsorg-laboratoriumdienste het tot dusver 19 834 toetse op Vrystaters uitgevoer. Ook is gereël dat van die toetse deur private gesondheidsorg-laboratoriums in die provinsie uitgevoer kan word.

*Ntombela het gesê SMME’s kan nou vir verskeie pakkette aansoek doen. Diegene wat reeds verwysingsnommers gekry het, kan dit saam met hul sakeondernemings se name en kontaknommers na SMME@destea.gov.za stuur. Diegene wat nog aansoek wil doen, moet seker maak hul name is op die sentrale databasis hiervoor geregistreer, asook by www.smmesa.gov.za.

Sy het ook gesê boere gaan ondersteun word. Thoko Didiza, die nasionale minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het ’n rampfonds van R1,2 miljard aangekondig om boere mee te help. In die Vrystaat is 5 384 aansoeke hiervoor geregistreer. Oor die naweek is 389 aansoeke met ’n gesamentlike waarde van R17,2 miljoen goedgekeur.

Meer oor:  Vlak 3  |  Vlak 4  |  Sisi Ntombela  |  Bloemfontein  |  Inperkingsregulasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.