Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Noordwes-hoë afgedank ná sy fluitjie oor LUR blaas

Die finansiële hoof van Noordwes se landboudepartement is onlangs afgedank nadat sy alarm gemaak het oor die LUR vir landbou se reiseise, wat in een jaar meer as R1 miljoen beloop het.

Hoewel daar blykbaar voldoende redes was om Sophy Koikanyang in die pad te steek, meen Jacqueline Theologo, die DA se provinsiale woordvoerder oor landbou, “dit is vreemd dat geen stappe gedoen is teen ander wat ook betrokke was by die besluitnemingsprosesse waarvoor sy nou verantwoordelik gehou word nie”.

Emelda Setlhako, woordvoerder van die provinsiale departement van landbou, het bevestig dat Koikanyang se kontrak einde Junie ná ’n tugproses beëindig is. Een van die ongerymdhede waaraan sy skuldig bevind is, was oor ’n betaling via ’n implementeringsagent om ’n gebou vir die departement te koop, terwyl die gebou nooit in die departement se naam oorgedra is nie.

Volgens Theologo is Koikanyang ook daaraan skuldig bevind dat sy ’n veiligheidstender van miljoene rande onreëlmatig goedgekeur het. “Sy het ’n betaling van meer as R6 miljoen aan ’n omstrede implementeringsagent toegestaan. Die maatskappy moes opkomende boere wat bevoordeeldes van die staat is, help met die verkryging van dienste. Pleks daarvan was hul dienslewering swak, terwyl buitensporige pryse gevra is.”

Volgens Theologo is Koikanyang afgedank kort nadat sy die provinsiale wetgewer se portefeuljekomitee oor landbou ingelig het dat Desbo Mohono, LUR vir landbou in Noordwes, in die 2019-’20-boekjaar meer as R1 miljoen vir die gebruik van haar private voertuig vir werkdoeleindes geëis het.

Tot dusver was daar geen optrede teen Mohono nie, al was haar eis ’n oortreding van regulasies in die ministeriële handboek, sê Theologo.

“Hierdie gebrek aan optrede skep ’n presedent dat sommige mense dalk verhewe bo die reg is. Koikanyang het egter nie alleen die ongerymdhede gepleeg waaraan sy skuldig bevind is nie. Hoekom is ander kernrolspelers nie saam met haar aangekla nie? Nóg die voormalige departementshoof wat die implementeringsagent aangestel het, nóg ander politici wat daarby betrek is, is tot verantwoording geroep.”

Theologo sê die DA vra nou by die departement die name van alle amptenare en politici wat moontlik betrokke was by die ongerymdhede waaroor Koikanyang afgedank is, en terugvoer oor watter stappe die departement teen hulle gedoen het.

“Koikanyang se afdanking was nie in goeder trou nie en was bloot om fluitjieblasers stil te maak. Dit wek ernstige kommer oor die werksekerheid van mense wat oor wangedrag uitpraat.”

Koikanyang se afdanking was nie in goeder trou nie en was bloot om fluitjieblasers stil te maak. Dit wek ernstige kommer oor die werksekerheid van mense wat oor wangedrag uitpraat.

Mohono het vroeër in antwoord op vrae van die Noordwes-wetgewer oor die kwessie gesê sy was genoodsaak om haar private voertuig van Februarie 2019 tot Julie 2020 vir werkdoeleindes te gebruik omdat ’n amptelike voertuig nie aan haar verskaf is nie.

Sy erken sy het in hierdie tyd net meer as R1 miljoen vir brandstof, bande, dienste en ander instandhoudingswerk aan die voertuig geëis.

Luidens Koikanyang se verslag oor die reiseise was ’n amptelike voertuig wel beskikbaar, maar Mohono wou dit glo nie gebruik nie.

Vuyisile Ngesi, woordvoerder in Noordwes se premierskantoor, sê ná 'n “noukeurige ondersoek” deur die provinsiale departement van gemeenskapsveiligheid, is bevind die vorige ministeriële handboek maak wel voorsiening daarvoor dat 'n LUR 'n private voertuig vir amptelike doeleindes mag gebruik indien daar nie 'n geskikte ampsvoertuig beskikbaar is nie. 

“Die bevinding was dat Mohono binne haar regte en in ooreentemming met die ministeriële voorskrifte opgetree het. 'n Oudit van die eise het getoon dit was geldig en het oor 'n tydperk opgebou. Die kwessie is nou afgehandel. Die LUR het intussen 'n nuwe amptelike voertuig gekry in ooreenstemming met riglyne volgens die jongste ministeriële handboek.”

Meer oor:  Noordwes  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.