Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Hoër tariewe, meer hulp vir armes in Tshwane

Inwoners van Tshwane gaan hul hande diep in hul sak moet steek nadat die metroraad se voorgestelde tariefverhogings Donderdag tydens die stad se begrotingsrede ter tafel gelê is.

Stevens Mokgalapa, burgemeester van Tshwane, het die 2019-’20-begroting van R39,7 miljard aangebied.

Stevens Mokgalapa burgemeester van die Tshwane-metroraad. Foto: Verskaf

Inwoners kan van 1 Julie af regmaak vir:

* ’n Styging in elektrisiteitstariewe van 13%.

* Sanitasietariewe styg met 8%.

* Tariewe vir vullisverwydering verhoog met 6%; en

* ’n Styging van 6% in eiendomsbelasting vir alle eiendomme, hoewel geen belasting op die eerste R150 000 van die waarde van residensiële eiendom gehef word nie.

Mokgalapa sê die metro se doel is om tariewe bekostigbaar te hou, maar sommige stygings soos dié van Eskom en Rand Water is buite die metro se beheer.

Inkomste uit watertariewe word begroot teen ’n verhoging van 8%, maar Rand Water het nog nie sy prysstyging aangekondig het nie. Dié tariefverhoging sal later in die stad se middeltermynbegroting bevestig word.

Mokgalapa het ook R1,3 miljard se maatskaplike hulp in die vorm van prysverligtings aangekondig ter ondersteuning van huishoudings sonder ’n amptelike inkomste. Dit sluit maandelikse ondersteuning in van 100 kW se gratis elektrisiteit, 12 kiloliter gratis water en ’n 100%-korting op eiendomsbelasting.

Ander projekte in die begroting wat uitgelig is, is befondsing vir infrastruktuurontwikkeling, vir die voorkoming van grondgrype en vir die versterking van die raad se teen-kabeldiefstal-eenheid.

Só raak dit beursies

Gegrond op gemiddelde rekenings, is dít hoe die styging in munisipale rekenings verbruikers se beursies maandeliks gaan raak:

* ’n Kragrekening van R1 350 styg na R1 526,45.

* Eiendomsbelasting van R776 verhoog na R818,68.

* ’n Waterrekening wat voorheen R600 beloop het, styg na R659,40.

* Vullisverwydering van R160 per maand kos voortaan R171,20

Mokgalapa het ook aangekondig die metro gaan in die boekjaar R15 miljoen bestee aan die ontwikkeling van ’n interne departement wat verantwoordelik is vir projekbestuur. Dit sal die metro minder afhanklik maak van konsultante, soos GladAfrica, aan wie die metro oor die afgelope twee jaar amper R500 miljoen betaal het vir projekbestuursontwikkeling.

Die ouditeur-generaal het vroeër bevind die verkrygingsproses vir die GladAfrica-tender was onreëlmatig, waarna die raad en GladAfrica ’n wedersydse ooreenkoms bereik het om die kontrak te beëindig.

Die Vryheidsfront Plus, wat ’n koalisievennoot in die Tshwane-regering is, sê in ’n verklaring die metro het die afgelope dekades “gely onder groot wanbestuur sowel as die onregmatige uitgawe van fondse, soos die GladAfrica-tender”.

Awie Erasmus, voorsitter van die raad se openbare rekeninge-komitee en lid van die Vryheidsfront Plus, sê dié party gaan deur sy deelname in die metro ’n fokus plaas “op ongemagtigde uitgawes, sowel as die implementering van kontroles wat onregmatige besteding aan bande sal lê”.

Volgens Erasmus kan steeds meer gedoen word om tariewe in die toekoms te verminder, mits finansiële bestuur en interne kontroles verbeter.

Die ANC het Donderdag op ’n mediakonferensie gesê hy het geen vertroue in die koalisieregering onder leiding van die DA nie.

Kgosi Maepa, ANC-streeksleier in Tshwane, sê sedert die DA die leisels in 2016 oorgeneem het, het dienslewering in die metro “tot die laagste vlak gedaal”.

’n Begrotingsdebat vind volgende week plaas.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.