Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Hoës nie daar toe waterhulp vir Graaff-Reinet opdaag

Die humanitêre organisasie Gift of the Givers (GOTG) het Graaff-Reinet Dinsdagoggend onder ’n geloei van sirenes ingery om die waternood in dié Karoo-dorp te help verlig.

GOTG het Saterdag gesê Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, het hulle versoek om verligting te bring in die nypende watertekort waaronder die dorp gebuk gaan.

Die munisipale wateringenieur, Ivor Berrington, het GOTG die versekering gegee dat hulle welkom in die dorp is.

Dr. Gideon Groenewald (middel), hidroloog van Gift of the Givers, spreek die skare toe wat die organisasie Dinsdag in Graaff-Reinet verwelkom het. By hom is Ali Sablay, projekbestuurder, en Corene Conradie van die Graaff-Reinet-waterkrisisgroep. Foto: Elsabé Pienaar

Tog is die gevoel van onsekerheid tussen die munisipaliteit en GOTG nog nie uit die weg geruim nie. Die munisipale bestuur was nie teenwoordig by die amptelike verwelkomingseremonie in Engelpark nie, en het ook nie op verskeie versoeke om kommentaar gereageer nie.

Ali Sablay, projekbestuurder van GOTG, sê die organisasie het talle hulpkrete van individue en organisasies in die dorp ontvang en is opgewonde om uiteindelik op mandaat van die minister te kan ingryp.

“Ons is egter net hier om die onmiddellike nood te verlig,” sê Sablay.

“Ons teenwoordigheid hier is nie ’n mosie van wantroue in die munisipaliteit nie en ons hoop om met die leierskap in die dorp te kan saamwerk om volhoubare oplossings vir die dorp se watertekort te vind.”

Sewe moontlike boorgatpunte is deur GOTG se hidroloog, dr. Gideon Groenewald, geïdentifiseer, en die boorwerk sou dadelik begin.

“Ons boor eers op verskeie skoolterreine en om water aan die kwesbaarste inwoners soos kinders en bejaardes te bring,” sê Groenewald.

Graaff-Reinet is nie ’n vreemde omgewing vir Groenewald nie. Benewens sy doktorale studies in die paleontologie van die Karoo, het hy ook in 1999 in opdrag van dr. Anton Rupert ’n studie oor die ondergrondse waterbronne van die dorp gedoen.

“Met dié kennis is ek vol vertroue dat die dorp genoeg ondergrondse waterbronne het om ons deur die droogte te dra,” het hy aan die entoesiastiese skare gesê wat GOTG in die dorp ontvang het.

Ten spyte van die droogtehulp van R30 miljoen wat die Beyers Naudé- plaaslike munisipaliteit vroeër vanjaar ontvang het, kon hulle nie met die huidige boorgate in die dorp se waterbehoefte voorsien nie.

Vrae oor hoe die R30 miljoen bestee is, kon ook nog nie met duidelikheid deur die munisipaliteit beantwoord word nie.

Corene Conradie van die Graaff-Reinet-waterkrisisgroep is baie verlig oor die hulp wat nou opgedaag het.

“Die krisis waarin ons ons bevind kan nie onderskat word nie,” het ’n emosionele Conradie gesê. “Mense pluk sommer messe uit net vir ’n emmer water.”

Meer oor:  Graaff-Reinet  |  Waterkrisis  |  Droogte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.