Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Hofgeding teen Dikgatlong dán voortgesit

Die belastingbetalersverenigings van Delportshoop en Barkly-Wes se hofstryd om die sukkelende Dikgatlong-munisipaliteit se raad te ontbind en onder administrasie te plaas, sal in Januarie 2020 in die hooggeregshof aangehoor word.

Die saak is verlede week in die hooggeregshof tot volgende jaar uitgestel omdat die Noord-Kaapse premier, die departement van samewerkende regering en die munisipaliteit die aansoek teenstaan. Die ander respondente is Eskom, die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) en die minister van energie.

Kalie de Bruyn voer namens die belastingbetalers aan dat sedert hulle ’n finale bevel verlede jaar in Julie bekom het waarvolgens die munisipaliteit Eskom moet betaal en die regrukplan in werking gestel moet word, dit nog nie gebeur het nie. Sou die regrukplan misluk, moet die premier ingevolge die hofbevel toesien dat die raad ontbind word en ’n administrateur aangestel word totdat ’n nuwe raad gekies is. Die oorname moet insluit ’n nuwe begroting en maatreëls om inkomste te in. Eskom is toe ook beveel om die kragtoevoer te herstel terwyl die munisipaliteit sy kragrekening ingevolge die betalingsooreenkoms met Eskom moet betaal.

Een van die vele betogings oor swak dienslewering in Barkly-Wes die afgelope drie jaar. Foto: Emile Hendricks

De Bruyn voer nou aan dat die finansiële herstelplan in 2016 opgestel en in Augustus 2018 deur die raad aanvaar is sonder dat die sperdatums aangepas is. Daar is dus geen geldige datums waarteen meetbare vordering getoon moet word nie.

Sy beweer in die jongste hofstukke dat die munisipaliteit se skuld aan Eskom nie voldoende afbetaal word nie en dat die skuld tot R87 miljoen gestyg het.

Volgens haar lewer die munisipaliteit nie bevredigende dienste aan die gemeenskap nie omdat die regrukplan nie werklik toegepas word nie, hoewel daar in ’n jaar se tyd meer as genoeg tyd was om vordering te maak.

Sy dring daarop aan dat die raad ingevolge die vorige hofbevel ontbind en munisipaliteit onder administrasie geplaas word.

Kagiso Modise, dorpsbestuurder, erken in sy hofverklaring dat hulle vanjaar nog net R3,5 miljoen aan Eskom betaal het. Sodra die munisipaliteit sy toegewysde geld van die regering ontvang het, sal hy ’n nuwe betalingsooreenkoms met Eskom aangaan.

Volgens hom probeer die munisipaliteit om sy verpligtinge ingevolge die regrukplan na te kom, maar hul werk word belemmer omdat inwoners en besighede nie hul rekeninge vereffen nie. Die munisipaliteit het ook nie voldoende vermoëns om spoedig resultate te verkry nie. Die munisipaliteit volg ’n vyfpunt-strategie om homself reg te ruk, maar dit moenie in isolasie met ander werksaamhede beskou word nie. Die strategie behels die herorganisering van die munisipale afdeling en om kritieke vakante poste te vul, die geldelike volhoubaarheid te verbeter deur die begroting aan te pas, beter bestuur van kontantvloei en die verbetering van infrastruktuur en dienslewering.

Hulle word deur die Frances Baard-distriksmunisipaliteit en die tesourie bygestaan.

Meer oor:  Barkly-Wes  |  Hofgeding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.