Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Honderde gegriefde inwoners wil Kimberley ontwrig

Sowat 500 gegriefde Kimberliete beplan om Donderdag die stad tot stilstand te bring deur strate na en van die stad te sluit wanneer hulle onder meer oor die verskaffing van elektrisiteit betoog.

Kimberley kan Donderdag in chaos gedompel word. Foto: Kimberley City Portal, Sol Plaatje Municipality

Pantsi Obusitse, sameroeper van die betoging, sê hulle is ontevrede met die kontrak van R1,2 miljoen wat die Sol Plaatje-munisipaliteit met ’n onbekende diensverskaffer gesluit het om SMS’e oor elektrisiteitskwessies aan die gemeenskap te stuur sonder dat die tender na behore geadverteer is.

Volgens hom is sover bekend R700 000 van die geld reeds aan die diensverskaffer betaal. Die gegriefdes wil weet wat met die res van die geld gebeur het. “Ons wil hê daardie kontrak moet nietig verklaar word en as daar ongerymdhede is, moet die skuldiges aan die pen ry.”

Hulle eis ook dat Lydia Matlhoko, finansiële hoof, en Goolam Akharwaray, munisipale bestuurder van Sol Plaatje, geskors word hangende ’n ondersoek na korrupsie.

Obusitse is ’n lid van die teenmisdaadorganisasie Wanya Tsotsi, maar sê dit is nie dié organisasie wat Donderdag protesteer nie. Dit is gegriefde lede van die gemeenskap wat in opstand kom.

“Ons het ons mense gevra om nie skole of klinieke af te brand nie. Ons gaan strate versper, maar noodvoertuie sal steeds deurgelaat word.”

Hy het ’n beroep op sakelui gedoen om hul ondernemings te sluit sodat daar “nie plundery of saakbeskadiging kan voorkom nie”.

Die groep het ook op 27 Junie vanjaar ’n protesoptog gehou waar hulle hul eise in ’n memorandum aan die munisipaliteit oorhandig het.

“Ons het gevra dat die basiese kragtarief van R260 geskrap word. Dit het gebeur. Ons het ook gevra dat weggedoen word met die prysstyging van 5,95% op elektrisiteit en dat elektrisiteitstariewe eerder goedkoper gemaak word. Die elektrisiteitspryse is toe van R1,45 tot R1,05 verminder.”

Obusitse sê egter die onbekende firma wat aangestel is, is aangestel om vir die inwoners te sê daar was nooit ’n basiese elektrisiteitstarief van R260 nie en dat inwoners wat aan protesaksies deelneem, se elektrisiteitstoevoer afgesny gaan word.

Ons het ons mense gevra om nie skole of klinieke af te brand nie. Ons gaan strate versper, maar noodvoertuie sal steeds deurgelaat word.

“Ons vra nou dat daardie kontrak ondersoek moet word, asook die elektrisiteitsverlies van R103 miljoen en waterverlies van R40 miljoen waaraan nie aandag gegee word nie en waarvoor die munisipaliteit nie verantwoordelikheid aanvaar om dit reg te stel nie.”

George Mosimane, bestuurder in die kantoor van die burgemeester, sê Sol Plaatje het toestemming gegee dat die optog mag voortgaan.

“Ons bly tot die ooreenkoms verbind wat ons met die eerste optog met dieselfde mense onderteken het.

“As daar nog griewe is, is die inwoners welkom om met ons te kom praat. Dit is hul reg om protes aan te teken.”

Meer oor:  Pantsi Obusitse  |  Kimberley  |  Betoging  |  Dienslewering  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.