Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Honderde sonder dienste ‘ ’n menseregte-tragedie’

Die ANC moes Donderdag vure doodslaan nadat dit tydens ’n oorsigbesoek deur lede van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) aan die lig gekom het dat 306 plakkershutte in uitbreiding 10 van Thabong by Ladybrand sonder water, elektrisiteit en toilette is.

Thabong se uitbreiding 10 by Ladybrand. Mense wat hier woon, het nie water, elektrisiteit of riolering nie. Foto: Mlungisi Louw

As nog ’n uitbreiding, uitbreiding 3, bygetel word, is die inwoners van 708 plakkershutte in dieselfde situasie.

Dr. Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, beskryf dit as ’n menseregte-tragedie.

Ace Magashule, voormalige Vrystaatse premier en nou sekretaris-generaal van die ANC, het in sy tyd as premier toegelaat dat ’n tender van R250 miljoen in die Vrystaat toegeken word om huise met asbesdakke te tel. “Ons weet die dakke is nooit getel nie en dat die projek geen voordeel vir Vrystaters ingehou het nie,” sê Jankielsohn.

Thamae Masejane, munisipale bestuurder van die Mantsopa-munisipaliteit waaronder Ladybrand val, sê dat die munisipaliteit nog op sy toelae van die munisipale infrastruktuurfonds van die nasionale regering wag voordat munisipale infrastruktuur vir die inwoners van uitbreiding 10 opgerig kan word.

Hy sê Eskom het beloof dat daar elektrisiteit sal wees, maar dit het nie gebeur nie.

Hy sê die Mantsopa-munisipaliteit het in 2013 erwe in uitbreiding 10 aan inwoners wat daarvoor gekwalifiseer het, gegee. Hulle kon egter nie daar gaan bly nie omdat daar nie infrastruktuur was nie.

In 2014 het die inwoners onwettig in die plekke ingetrek en die munisipaliteit het probeer om hulle uit te sit, maar die hooggeregshof in Bloemfontein en die Menseregtekommissie het die besluit omgekeer totdat alternatiewe blyplek verskaf is.

Masejane sê die munisipaliteit help tans die inwoners deur vier keer per week watertenkwaens na die omgewing te bring.

Lede van die Nasionale Raad van Provinsies was geskok oor die situasie in Thabong, ’n woongebied buite Ladybrand. Foto: Mlungisi Louw

Volgens hom is daar heelwat onwettige immigrante van Lesotho wat daar kom “plak” en dat hy die departement van binnelandse sake hiervan in kennis gestel het.

James Letuka, DA-wetgewerlid in die Vrystaat, wou weet waarom die munisipaliteit nie van die begin af iets aan die situasie gedoen het nie.

Thamae Masejane (in die strepieshemp), munisipale bestuurder van die Mantsopa-munisipaliteit, luister aandagtig na wat lede van die Nasionale Raad van Provinsies vir hom sê met die lede se besoek aan Thabong se uitbreiding 10. Foto: Mlungisi Louw

“Dié mense pleit daagliks vir water. Dié omstandighede is onmenslik. Die vraag is of die regering genoeg omgee om die mense werklik te help.”

Hy het ook sy kommer oor die gebrek aan gesondheidsgeriewe uitgespreek.

George Michalakis, DA-LP en lid van die NRP, het gesê Thabong se uitbreiding tien was eerste daar, maar omdat daar ’n opstand in die nabygeleë Marikana was, het die Mantsopa-munisipaliteit eerste daar HOP-huise gebou.

“Die meeste van die inwoners van uitbreiding 10 is Suid-Afrikaanse burgers wat werk gaan soek het en wat dit nie gekry het nie. Die regering het van hulle vergeet. Die titelaktes wat hulle gekry het, het vir hulle geen vryheid of menswaardigheid gebring nie.

“Die ANC-regering verkies dit so, want as hulle mense afhanklik van die regering hou, kan hulle die mense polities as gyselaars hou,” het hy gesê.

Seiso Mohai, hoofsweep van die NRP, wat die afvaardiging gelei het, het gesê die omstandighede is kommerwekkend.

“As dit reën, is daar geen toegang tot paaie nie. Omdat daar nie toilette is nie, is inwoners letterlik op die veld aangewese.”

Mohai het gesê hy sal Vrydag vasstel of die woonbuurt deel is van die opknappingsprogram vir menslike nedersettings.

“Ek gaan by die provinsiale departement van menslike nedersettings om hulp aanklop en ook by die nasionale departement van menslike nedersettings, water en sanitasie.”

Lede van die Nasionale Raad van Provinsies en die Vrystaatse wetgewer het Donderdag ’n oorsigbesoek aan Thabong by Ladybrand gebring. Foto: Mlungisi Louw

Meer oor:  Dr. Roy Jankielsohn  |  Ladybrand  |  Thabong  |  Dienslewering  |  Plakkershutte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.