Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Inwoner van Rosestad kla metro aan oor water

’n Inwoner van Bloemfontein het Woensdag ’n klag van diefstal by die Parkweg-polisiekantoor teen die Mangaung-metro ingedien omdat hy gereeld sonder water sit, maar getrou sy waterrekening betaal.

Bernie Naudé, radiopersoonlikheid van Bloemfontein, het ’n klag by die Parkweg-polisiekantoor teen die metro aanhangig gemaak oor die voortslepende watertekorte in Bloemfontein. Foto: Mlungisi Louw

Die radiopersoonlikheid Bernie Naudé sê hy is radeloos oor die waterprobleme in die metro waar die suidelike woonbuurte van Bloemfontein die afgelope 17 maande altesame 44 dae sonder water was en hy “regstreeks hierdeur geraak is”.

“Ek is moedeloos gesukkel en het besluit om ’n punt te maak. Ek woon in Alabamastraat, Pellissier. Ons woonbuurt is altyd die eerste wat geraak word as daar wateronderbrekings is en die laaste wat weer water kry.

“Ek is nou moeg vir die metro se gesukkel en wil ’n punt maak sodat die hof uitspraak kan lewer.”

Die drinkwater wat die Mangaung-metro vandeesweek in watertenkwaens aan inwoners van Pellissier aangery het.Foto: Verskaf

Hy sê as hy vir iemand sou vra om sy selfoonrekening te gaan betaal, maar die persoon gaan koop eerder drankies met die geld, gaan hy dié persoon verantwoordelik hou as die selfoonmaatskappy sy selfoon afsny.

“Dit is presies wat hier gebeur. Ek het ’n regsmening gekry. Die metro word met ons watergeld toevertrou om die waterraad, Bloemwater, te betaal. Hulle mág nie hierdie geld vir enigiets anders gebruik nie.”

Hoe gebeur dit nou dat Bloemwater die metro se waterlewering voortdurend tot 30% verminder weens skuld van sowat R449 miljoen wat Mangaung hom volgens Bloemwater skuld?

“Dit is die inwoners wat die lydende party is as daar nie water is nie.”

Naudé sê hy en sy vrou het drie laerskoolkinders. “Hoe sê jy vir jou kinders hulle mag nie buite speel nie, want daar is nie water om hulle mee te bad nie? Jy het baie water nodig om kos te kook, skottelgoed en wasgoed te was en toilette te spoel. ’n Mens kan nie sonder water leef nie. Dit is kragtens die Grondwet ’n basiese reg.”

Naudé sê hy was nou drie dae sonder water, verlede maand was dit twee dae en die maand voor dit ’n week.

Waarom het hy, sy straat en woonbuurt nie water nie as inwoners hul waterrekening klokslag betaal?

“Waar gaan ons geld heen, want die geld mag nie vir iets anders gebruik word nie? Die stadsbestuurder, adv. Tankiso Mea, moet verantwoordelik gehou word as ons nie water het nie.”

So moes Bloemfonteiners drie dae lank bontstaan met waterkanne by tenkwaens om water vir hul huishoudings te bekom nadat Bloemwater waterlewering aan die metro tot 30% verminder het.Foto: Verskaf

* Mea het Woensdag gesê die metro betwis die R449 miljoen wat Bloemwater sê hy dié waterraad skuld.

Hy het bevestig dat Lindiwe Sisulu, minister van water, sanitasie en menslike nedersettings, Bloemfontein gaan besoek om die dispute tussen die metro en Bloemwater op te los.

Volgens hom word die hofsaak tussen die metro en Bloemwater op 19 September in die hooggeregshof in Bloemfontein voortgesit. “Ons is vol vertroue dat die kwessie binnekort opgelos sal wees en dat daar ’n gunstige uitspraak vir die metro sal kom.”

Toe Mea gevra is waarom sy amptenare “modderige” water in watertenkwaens aan die inwoners gee om te drink, het Mea gesê die water is drinkbaar.

“Dit is net die kleur wat in droogtetye problematies is.”

Bloemfonteiners moes Dinsdagaand tot sterk skemer in Pellissier, Bloemfontein, wag om water by ’n watertenkwa te tap. Foto: Verskaf

Meer oor:  Bloemwater  |  Bloemfontein  |  Watertoevoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.