Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Inwoners juig oor water in Swartruggens ná diensoorname

Sommige inwoners in die Borolelo-township naby Swartruggens in Noordwes het die eerste keer in twee maande water.

“Jy kan nie glo hoe opgewonde hulle is nie,” sê Wilhelm Rochér, voorsitter van Swartruggens se vereniging vir besorgde inwoners. “Ons watersituasie is nou 80% beter.”

Volgens Rochér is dit een van die veranderinge in dié Noordwes-dorp wat reeds sigbaar is nadat inwoners hier en in Koster ingevolge ’n hofbevel verlede Donderdag tydelik die water- en riooldienste oorgeneem het.

Dít kom nadat die Kgetlengrivier-munisipaliteit in die omgewing volgens die inwoners nie ’n hofbevel nagekom het om die oorvloei van rioolvuil stop te sit en watertekorte te verbeter nie.

Die splinternuwe rioolaanleg in Koster net nadat die inwoners dit oorgeneem het. Foto: Deaan Vivier

“Ons het intussen ook die hoofpomp na die watersuiweringsaanleg in Swartruggens vervang,” sê Rochér. “Mense in die dorp en township het nou permanent silwerskoon water. Ons behoort die rioolaanleg vóór Saterdag aan die gang te kry. Ons onderhandel nou nog met die kontrakteur daar wat wag vir sy betaling (van die Kgetlengrivier-munisipaliteit).”

Carel van Heerden, voorsitter van die Kgetlengrivier-belastingbetalersvereniging, het Woensdag gesê die rioolaanleg in Koster wat in Augustus verlede jaar teen R144 miljoen voltooi is, werk nou die eerste keer volstoom. “Alles lyk nou baie netjieser, ons het ook die gras gesny.”

Van Heerden sê waar mense in die Koster-omgewing tevore dikwels net ’n halfuur per dag water gehad het, het hulle nou danksy die herstel van talle pompe, tussen drie en vier uur soggens én saans water. “Alles kan nie dadelik regkom nie. Van die pompe is oud, maar ons maak hulle reg. Inwoners kom vra ons nou hoekom neem ons nie sommer al die dienste oor nie, maar ons kan nie. Dis nie ons werk nie.”

Die terrein by die rioolaanleg in Koster, Noordwes, byna ’n week nadat die inwoners dit oorgeneem het. Dit werk nou vir die eerste keer sedert die voltooiing daarvan in Augustus 2020 ten volle, en die gras is gesny. Foto: Verskaf

Mense wat by Klub Kranskruil naby die rioolaanleg in Koster woon, sê die voortdurende vloei van rioolvuil deur die oord en die gepaardgaande ondraaglike stank, is nou vir die eerste keer in weke beter. “Ons hoor daar loop nog rioolvuil in die pad, maar hier by ons het dit gestop en dit stink nie meer so nie,” sê een van die personeellede. Hulle kla al vir maande oor die voortdurende probleem van rioolvuil in die oord, wat uiters onhigiëniese toestande skep.

Die inwoners van Koster en Swartruggens het Dinsdag in die hooggeregshof in Mmabatho ’n skikking met die munisipaliteit bereik oor die lewering van dienste in dié gebied. Die skikking word nou deel van die hofbevel wat regter F.S. Gura in Desember gemaak het. Daarin het hy gelas inwoners mag die bestuur van water- en riooldienste tydelik oorneem indien die munisipaliteit nie binne tien werkdae vanaf die bevel sekere regstellende stappe doen nie.

Die skikking wat regter Gura Dinsdag bekragtig het, behels dat inwoners mag voortgaan om die water- en riooldienste self te bestuur, totdat die munisipaliteit ’n geskikte diensverskaffer aangestel het, daar ooreengekom is op ’n behoorlike oorgeeplan en dit uitgevoer is.

Joseph Mogale, munisipale bestuurder, het beloof die munisipaliteit sal nog ’n verklaring oor die skikking uitreik. Van Heerden sê die hofaansoek in Desember oor die diensoorname was hul laaste uitweg nadat jare lange gesprekke met die munisipaliteit oor voortslepende diensleweringsprobleme geen verbetering gebring het nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.