Sowat 300 ontevrede inwoners van Warrenton het na die Magareng-munisipaliteit opgeruk om ’n griefskrif aan amptenare van die departement van samewerkende regering te oorhandig.
Dit volg op onlangse kragonderbrekings deur Eskom weens agterstallige skuld en gepaardgaande watertekorte.
Inwoners het ’n maand gelede die N12-roete wat deur die dorp loop uit frustrasie oor swak dienslewering en kragonderbrekings versper.
Gert van Heerden, een van die organiseerders van die Magareng Community Forum, wat die optog gereël het, sê hulle weier om verder met die burgemeester en munisipale bestuur te onderhandel.
“Ons het alle vertroue in die raad en amptenare verloor. Hulle slaan lankal nie meer ag op ons klagtes nie. Ons eis in ieder geval dat die munisipaliteit onder administrasie geplaas word. Dit is hoekom die LUR aandag moet gee aan ons griefskrif.
Die tegniese direkteur moet onmiddellik geskors word terwyl ondersoek ingestel word na die onbestede munisipale infrastruktuurtoelae wat vir dienslewering bedoel was.
“Die amptenare wat die griefskrif ontvang het, het gesê dat die LUR binne 14 dae antwoorde sal gee.”
In die griefskrif eis inwoners dat die provinsiale regering dringend by die munisipaliteit ingryp.
“Ons eis ook dat die premier die betrokke minister en Raad van Provinsies van die munisipaliteit se probleme in kennis stel.
“Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regerings (Salga) en die tesourie moet kundiges stuur om die waarnemende munisipale bestuurder en finansiële hoof by te staan. Die kundiges moet ’n oudit van die personeelgetalle doen, ongewone kontrakte en aanstellings onder oë neem en verslag daaroor doen.
“Die tegniese direkteur moet onmiddellik geskors word terwyl ondersoek ingestel word na die onbestede munisipale infrastruktuurtoelae wat vir dienslewering bedoel was. Ons vermoed daar was wanadministrasie.
“Die provinsiale regering moet ons petisie ondersteun waarin ons eis dat Nersa (die nasionale energiereguleerder) die munisipaliteit se lisensie om elektrisiteit te versprei en verkoop, terugtrek,” sê Van Heerden.