
Van die inwoners Vrydag voor die munisipale kantore in George.
Verskeie inwoners in George het Vrydag ’n vreedsame protesoptrede by die munisipale kantore in George gehou ter ondersteuning van Melvin Naik, burgemeester, wat die trekpas by die DA gekry het.

Melvin Naik
Die DA se federale regskommissie het Donderdag aan Naik geskryf om hom in te lig dat sy lidmaatskap van die party beëindig is.
Die DA het Woensdag in ’n verklaring gesê Naik is nie langer ’n lid van die party nie en dus ook nie meer ’n raadslid van George nie.
Naik is vroeër 48 uur gegee om as burgemeester te bedank, maar hy het geweier.
Die besluit van die DA kom nadat die DA-koukus in George op 27 Januarie ’n mosie van wantroue teen Naik aanvaar het.
Die optrede teen Naik volg op die bevindinge in ’n forensiese verslag oor bewerings van bedrog, korrupsie, wanadministrasie en ernstige wanpraktyke in die George-munisipaliteit. Die ondersoek is deur Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, aangevra.
Volgens die inwoners wil hulle hê Naik moet weer die leisels as burgemeester neem.
Volgens hulle is Naik nog nie voor ’n hof gebring of skuldig bevind op die aantygings teen hom nie.