Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Inwoners van Barkly-Wes wil weer hof toe

Die inwonersvereniging van Barkly-Wes gaan die Noord-Kaapse premier, die departement van samewerkende regering en die munisipaliteit ná die Paasnaweek weer hof toe vat oor swak dienslewering en minagting van die hof.

Die inwoners voer aan dat die staatsdepartemente en Dikgatlong-munisipaliteit nie uitvoering gee aan ’n vorige hofbevel waarin hulle verplig word om ’n regrukplan in werking te stel nie.

Kalie de Buyn, voorsitter van die inwonersvereniging, sê sedert 2017 het sy geen reaksie op haar klagtes oor swak dienslewering gekry nie. Die gemeenskap se daaropvolgende betogings in 2018 het nie positiewe gevolge gehad nie. Toe stel Eskom kragonderbrekings in weens wanbetaling.

Inwoners van Barkly-Wes sê die rioollekke en gevolglike stank is onuithoudbaar en hulle kry geen antwoorde van die Dikgatlong-munisipaliteit nie. Foto: Verskaf

Die inwonersvereniging het daarna in Junie 2018 ’n hofbevel bekom ingevolge waarvan Eskom nie mag voortgaan om die krag 14 uur per dag in Barkly-Wes af te skakel nie. Die munisipaliteit moes sy rekening ingevolge die betalingsooreenkoms betaal.

Benewens Eskom, was die re­spondente die Noord-Kaapse premier, die departement van samewerkende regering, die munisipaliteit, die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) en die minister van energie.

Die premier is beveel om ’n regrukplan in werking te stel sodat die munisipaliteit sy verpligtinge kan nakom en die geldkrisis oplos.

Sou die regrukplan misluk, moet die munisipaliteit ontbind en ’n administrateur aangestel word.

De Bruyn het Donderdag gesê sy kry geen terugvoering van die premier of die departement oor haar klagtes nie.

“Die strate is steeds vieslik vuil, riool loop kort-kort in die strate en watervoorsienings is by tye sporadies.

“Ons kry geen antwoorde nie. Ek het hulle Dinsdag laat weet ek gaan weer hof toe. Net soos met my ander skrywes, kry ek geen reaksie nie.

“Die sogenaamde regrukplan waarmee hulle vorendag gekom het, is in 2016 opgestel. Toe hulle dit ná die hofbevel in 2018 te voorskyn bring, was die sperdatums lankal verstreke. Dit is opgedwing aan die raad, wat nie ’n sê daaroor gehad het nie.

“Die plan is niks werd nie. Intussen skakel Eskom kort-kort twee kragpunte na die rioolaanleg en die Longlands-woonbuurt wat die munisipaliteit huur, weens wanbetaling af. Die munisipaliteit misbruik die hofbevel om Eskom nie te betaal vir die kragpunte wat buite die hofbevel val nie.

“Ek vermoed ook dat die betalingsooreenkoms met Eskom nie nagekom word nie. Dit is minagting van die hofbevel. Die munisipaliteit moet dringend onder administrasie geplaas word.”

Bentley Vass, LUR van samewerkende regering, het Dinsdag gesê die munisipaliteit moet die plan in werking stel. Adv. Mogami Manyeneng, regsgeleerde by die departement, het gesê dit neem baie lank om ’n munisipaliteit met soveel probleme reg te ruk.

“Daar is ligpunte. Ons het maandelikse vergaderings en verslae word opgestel. ’n Munisipale bestuurder en finansiële hoof is aangestel. Die nasionale departement is ook betrokke om die munisipaliteit, wat eiesoortige probleme ondervind, reg te ruk. Ons sit nie stil nie.”

Volgens hom wil hulle nie sommer drastiese stappe doen deur amptenare van wanadministrasie aan te kla nie.

Meer oor:  Barkly-Wes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.