Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Inwoners van Edenville kry hul huise se titelaktes

Inwoners van Edenville in die Vrystaat het Woensdag as huurders by ’n kerksaal op die dorp ingestap en as huiseienaars uitgestap, sê die Khaya Lam-stigting in ’n mediaverklaring.

Danksy ’n borgskap deur BetterBond, die Ngwathe-munisipaliteit en die Vryemarkstigting se Khaya Lam-projek het 115 inwoners, wat al dekades in staatshuise woon, titelaktes van die huise ontvang.

Khaya Lam beteken my huis.

BetterBond se hoof, Carl Coetzee, en die burgemeester van Ngwathe, Joey Mochela, was teenwoordig.

Perry Feldman van Khaya Lam sê die oorhandiging maak ’n tasbare verskil in mense se lewens omdat huiseienaars geld by banke kan leen om hul kinders te laat studeer of om kleinsakeondernemings te begin.

Inwoners van Edenville het Woensdag danksy ’n inisiatief deur die Vryemarkstigting die titelaktes van hul huise ontvang.Foto: verskaf

Hy sê Edenville is een van die armste gemeenskappe in die land, en die titelaktes maak ’n verskil in mense se lewens en gee die gebied ’n welkome ekonomiese hupstoot.

BetterBond, die hoofborg, het van plaaslike spyseniers gebruik gemaak en ook ander aankope plaaslik gedoen om die dorp te ondersteun, sê Feldman.

Feldman sê Khaya Lam help inwoners om hul menswaardigheid terug te kry omdat apartheid hulle die reg ontneem het om eiendom te besit.

Hoewel hulle jare lank in hul huise in die townships woon, kon hulle nooit bewys dat die huise aan hulle behoort nie.

Coetzee het aan die ontvangers gesê sy maatskappy is passievol oor huiseienaarskap in Suid-Afrika en daarom steun hulle die Khaya Lamp-projek.

“ ’n Titelakte is baie meer as net ’n stuk papier of ’n stuk grond of ’n huis. Dit beteken waardigheid en finansiële sekerheid,” het hy gesê.

Die Vryemarkstigting is al langer as 40 jaar besig om te help om die titelaktes van ou apartheidsnedersettings in volwaardige titelaktes om te skakel, sê Feldman.

Die stigting het al 8 149 titelaktes laat uitreik en so meer as R1 miljard se dooie kapitaal ontsluit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.