Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Inwoners vertel Kaapse metro wat hulle pla

Veral bejaarde en afgetrede inwoners van Kaapstad kla dat munisipale tariewe toenemend onbekostigbaar vir hulle raak.

’n Verslag oor die openbare kommentaar op die metroraad se voorgestelde begroting vir die 2019-’20-boekjaar is Dinsdag op ’n vergadering van die burgemeesterskomitee ingedien. Dit bevat onder meer die terugvoering oor die verhoging in eiendomsbelasting, asook voorgestelde tariefverhogings vir elektrisiteit, water en sanitasie.

Dié verhogings word op 1 Julie van krag.

Luidens die verslag sê inwoners die voortdurende tariefstygings vererger die reeds hoë lewenskoste. Sommige inwoners stel voor dat alle inwoners van Kaapstad vir dienste moet betaal, ongeag hul sosio-ekonomiese stand, terwyl ander voel die stad se afslag op tariewe moet gegrond word op inkomste en nie eiendomswaarde nie.

Inwoners is ook ongelukkig oor die vasgestelde dienstarief vir water. Van die inwoners sê hulle het onkoste aangegaan om minder water te gebruik of om heeltemal onafhanklik van die waternetwerk te wees. Die dienstarief is teenproduktief en steun nie mense wat self ’n plan maak om minder water te gebruik nie.

Ander voorstelle is dat meer klinieke gebou word omdat die bestaande klinieke reeds teen volle kapasiteit bedryf word.

Die konsepbegroting vir die 2019-’20-boekjaar is op 1 April geadverteer. Meer as 4 000 geskrewe kommentare is ontvang en 1 817 mense het op spesiale vergaderings terugvoering gegee.

Byna ’n kwart van die kommentaar wat deur die afdeling vir water en sanitasie ontvang is, is van mense wat kla oor blokkasies en lekplekke in die rioolstelsel. Dit veroorsaak dat paaie oorspoel word met afvalwater wat sleg ruik en ongesond is.

In informele woonbuurte kla inwoners oor die tekort aan behoorlike toilette en krane, asook oor vullis wat onwettig gestort word of nie voldoende verwyder word nie.

Inwoners is ook diep bekommerd oor die hoë misdaadvlakke en vra dat die Kaapstadse metroraad ingryp teen bendebedrywighede, die smokkel van dwelms, prostitusie, roof en diefstal.

Van die inwoners vra dat meer metropolisielede en wetstoepassingsbeamptes aangestel word, asook dat daar meer veiligheidskameras oor die stad heen opgestel word. Kapenaars kla ook dat die munisipale regulasies te veel aangepas word en dat daar nie behoorlike wetstoepassing is nie.

Wat behuising betref, vra inwoners vir meer huise in informele en formele woonbuurte. Een van die voorstelle is dat die metroraad ’n oudit doen oor al die beskikbare grond in die gebied sodat dit vir ontwikkeling van behuising gebruik kan word. Inwoners vra ook dat die metroraad nie munisipale grond aan eiendomsontwikkelaars verkoop nie.

Nog ’n klagte is oor die verkeersopeenhopings wat volgens inwoners nou ’n chroniese probleem is. Op die hoofpaaie is die verkeer tot enkelbane verminder wat lang opeenhopings en vertragings veroorsaak.

Die konsepbegroting vir die 2019-’20-boekjaar is op 1 April geadverteer. Meer as 4 000 geskrewe kommentare is ontvang en 1 817 mense het op spesiale vergaderings terugvoering gegee.

Die volgende stap is dat die metroraad die kommentaar deurgaan en van die voorstelle in ag neem wanneer die begroting vir die volgende boekjaar afgehandel word.

Meer oor:  Kaapstad Metro  |  Klagtes  |  Munisipaliteite  |  Dienslewering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.