Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Is duur Mangaung-busse nou hier?

’n Sluier van geheimhouding word vanuit die Mangaung-metro oor ’n busprojek van multimiljard rand getrek, terwyl foto’s van tien busse by die Engen-vulstasie op die pad na Botshabelo aan Netwerk24 gestuur is.

Die Hauweng-busse wat glo op die Thaba Nchu-pad net buite Bloemfontein gewaar is waar die Engen-vulstasie net voor die Bram Fischer- internasionale lughawe geleë is. Ses busse kan hier gesien word, maar volgens Netwerk24 se bronne was daar tien van die Hauweng-busse op die pad, wat nou glo in Botshabelo staan.

Netwerk24het op 27 Mei 2014 berig ’n multi-miljardrandse openbare vervoerstelsel word vir die groter Bloemfontein, Botshabelo en Thaba Nchu op die been gebring, soortgelyk aan ander metro-munisipaliteite in Suid-Afrika en dié van groot wêreldstede. Dit word met ’n nasionale regeringstoelae gefinansier, is berig.

Oor of dié busse aangekom het, wil adv. Tankiso Mea, die stadsbestuurder, en Qondile Khedama, woordvoerder van die metro, nie ’n woord rep nie al het Olly Mlamleli, die uitvoerende burgemeester, en ander personeel dit destyds in die openbaar bekend gestel.

Hauweng (Kom ons gaan). Die busse van die Mangaung-metro se nuwe multimiljardrandse openbare vervoerdiens, genaamd Hauweng, in Bloemfontein wat glo net buite die stad op pad na Botshabelo gewaar is.

Die nasionale regering dra oor verskeie jare miljarde rande na die 12 grootste munisipaliteite in die land oor om uiteindelik ’n nasionale vervoerstelsel op die been te bring, waarvan die Mangaung-metro een is.

Mea het egter vandeesweek ná drie dae se herhaaldelike telefoniese navrae oor die aankoms van die busse in Bloemfontein en wat die totale koste daarvan is, gesê: “Ek het géén kommentaar nie en gee nie om as julle my só aanhaal nie.”

Vrae is ook skriftelik aan Khedama gestuur, maar hy wou ook nie bevestig of die busse nou aangekom het of nie.

Mea het eers gesê hy wil aanstaande week oor al die vrae met Netwerk24 se verslaggewer om ’n tafel vergader, maar het later gesê hy gaan nie praat nie.

“My kommentaar is: Géén kommentaar. Ek gee ook nie om as julle my so aanhaal nie.”

Die Mangaung-metro se digitale koerant waarin die Hauweng-busdiens ook in April vanjaar bekend gestel is. Op die foto bo staan Olly Mlamleli, die uitvoerende burgemeester, en Sam Mashinini, die Vrystaatse LUR vir polisie, paaie en vervoer, by die logo van die busdiens en ’n prentjie van hoe die busse gaan lyk. Foto: Mangaung-metro se webwerf

Volgens inligting is die tien Hauweng-busse nou in Botshabelo geparkeer.

Netwerk24 het betroubaar verneem dat die metro pas weer sy jaarlikse toelae van R68 miljoen vir die vervoerprojek van die nasionale regering gekry het en dat Mea die projek “naby sy bors” hanteer.

* Mlamleli het by navraag gesê sy is nog nie bewus van die busse wat in Bloemfontein aangekom het nie, maar het die oproep na Sello Moré, haar departementshoof vir vervoer, wat volgens haar die verantwoordelike amptenaar is, verwys.

Moré het ná verskeie oproepe nog nie gereageer nie.

Intussen vra die publiek baie vrae, soos of Bloemfontein se strate wyd genoeg gaan wees as nog ’n bykomende baan vir busse geskep moet word.

Netwerk24 het ook op 16 September 2019 geskryf: “Luidens ’n verslag van die ouditeur-generaal (OG) het Mangaung reeds R435 miljoen aan sy Hauweng-vervoerprojek bestee.”

Mea het op skriftelike navrae van Rossouw Botes, DA-raadslid, erken dat sy kantoor sowat R230 miljoen van die R435 miljoen wat reeds bestee is, aan Glad Africa oorbetaal het.

Die DA reken dié bedrag beloop eintlik R283 miljoen, is voorheen berig.

Die omstrede ingenieursfirma Glad Africa het die tender gekry om die openbare en geïntegreerde vervoerprojek oor die volgende vyf jaar namens die metro in werking te stel.

Volgens die OG se kantoor het die Tshwane-munisipaliteit reeds R500 miljoen verloor voordat ’n soortgelyke multi-miljoenrand-kontrak met Glad Afrika wedersyds beëindig is, is voorheen berig.

Mea het voorheen gesê die kontrak met Glad Africa verstryk in Desember 2019.

Meer oor:  Mangaung-Metro  |  Bloemfontein  |  Busse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.