Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
JB Marks hof toe oor administrasie

Die JB Marks-munisipaliteit in Potchefstroom en Ventersdorp bring Vrydag ’n dringende aansoek in die hooggeregshof in Mmabatho om die administrasieproses by die munisipaliteit te hersien.

Willie Maphosa, JB Marks se woordvoerder, het Woensdag gesê die munisipale bestuur het vroeër ’n ooreenkoms met die Noordwesregering aangegaan dat ’n administrateur eers aangestel sal word nadat die provinsie verslag gedoen het oor presies op watter vlakke by JB Marks ingegryp sou word. “Ons het nog nie so ’n verslag van die provinsie ontvang nie.”

Die provinsie het egter pas ’n administrateur (Modisenyane Segapo) in JB Marks aangestel.

Dineo Thapelo, woordvoerder vir Noordwes se departement van plaaslike regering, sê hulle gaan nie kommentaar lewer terwyl die saak nog voor die hof moet dien nie.

Die provinsiale regering het reeds in Mei besluit om JB Marks onder administrasie te plaas ingevolge art. 139 (b) (1) van die Grondwet. Dit beteken die bestaande bestuurskorps bly aan terwyl ’n administrateur in ’n raadgewende hoedanigheid ingryp.

Nadat ANC- en EFF-raadslede hierteen geskop het, het die provinsie toegegee daar was sedert 2018 op sommige vlakke ’n verbetering in bestuur by die munisipaliteit. Daar is egter nog ander uitdagings waar ingryping steeds nodig is, is besluit. Maphosa het Woensdag gesê dis dié fynere besonderhede oor ingryp waaroor JB Marks nog nie terugvoering gekry het nie.

Chris Hattingh, voormalige DA-parlementslid en tans ’n kandidaat vir ’n tussenverkiesing in Potchefstroom, sê egter die besluit om die administrasiebesluit “met belastingbetalersgeld” in die hof te laat hersien is nooit deur die raad goedgekeur nie.

Die DA het daarom Maandag ’n spesiale raadsvergadering laat byeenroep om die beweerde “raadsbesluit” te bevraagteken.

Die vergadering is egter veral ontwrig deur lede van die publiek in die openbare galery. Volgens Hattingh het ANC- en onafhanklike raadslede DA-raadslede tydens die vergadering doodgeskree en beledig. Die ontwrigting was so erg dat die vergadering verdaag het voordat enige besluite geneem is, sê Hattingh.

“Die ingryping en koms van ’n administrateur hou duidelik ’n bedreiging vir sommige individue in en daarom is hulle desperaat om hof toe te gaan. Hul ontwrigtende gedrag wys dringende ingryping ís nodig.”

Maphosa ontken dat die vergadering Maandag ontwrig is. “Daar was wel ’n geraas in die openbare galery. Die raad het op ’n vergadering verlede Donderdag (op aanbeveling van die DA) besluit om ’n regsmening in te win oor die administrasiebesluit en om die hof te nader indien die regsmening ten gunste is daarvan. Onder andere die burgemeester (Khumalo) en die munisipale bestuurder het die afgelope naweek regsmening ingewin. Dit was ten gunste daarvan om die hof te nader en daarom is daar voortgegaan.”

Hans-Jurie Moolman, ’n prokureur en DA-raadslid, sê hy het bloot voorgestel indien die raad ontevrede is oor die administrasiebesluit, moet hulle ’n regsmening inwin oor of dit wenslik en grondig is om hof toe te gaan. “Die besluit Donderdag was net om ’n regsmening in te win. Die raad sou daarna eers moes vergader om die mening te bespreek en dán besluit of ons hof toe gaan.”

Die DA en VF Plus is ten gunste van die administrasieproses weens onder meer beweerde korrupsie en swak dienslewering by JB Marks.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.