Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
JB Marks ‘verwerp’ provinsiale ingryping

Die ANC-beheerde JB Marks-munisipaliteit in Potchefstroom en Ventersdorp verwerp die provinsiale ingryping om dié munisipaliteit onder administrasie te plaas.

Só lyk dit in openbare parke in Potchefstroom. Dié park by die munisipale swembad is vervalle, oorgroei en met rommel bestrooi. Dit lyk al vir maande so. Foto: Susan Cilliers
Rommel en lang gras ontsier dié vervalle park by Potchefstroom se munisipale swembad. Foto: Susan Cilliers
Leë drankhouers, papiere en wild groeiende gras in ’n park by die Potchefstroomse munisipale swembad.Foto: Susan Cilliers

Kgotso Khumalo, uitvoerende burgemeester, gaan nou met Motlalepula Rosho, LUR vir plaaslike regering in Noordwes, vergader om beswaar te maak, sê Victor Boqo, sy woordvoerder. “Ons is geldelik lewensvatbaar en dienste word gelewer. Die provinsiale regering het prosedureel gefouteer om ons onder administrasie te plaas.”

Volgens Boqo is die munisipaliteit Maandag ingelig van die ingryping. Noordwes se provinsiale uitvoerende komitee het op 2 Mei besluit om sewe munisipaliteite in die provinsie vir drie tot ses maande onder administrasie te plaas ingevolge art. 139 (1) van die Grondwet. Dit is weens swak bestuur, benarde geldsake en erge gebreke met die instandhouding van infrastruktuur en algemene dienslewering.

Die ANC-, EFF- en onafhanklike raadslede in JB Marks het Khumalo op ’n raadsvergadering Donderdag met ’n meerderheidstem die mandaat gegee om met die LUR te vergader. Die DA en VF Plus het dit vergeefs teengestaan.

Hans-Jurie Moolman, DA-koukusvoorsitter in die JB Mark-munisipaliteit, sê die DA verwelkom die ingryping omdat die munisipaliteit die afgelope jare in ’n “afwaartse spiraal” versleg het weens wanbestuur, korrupsie en die ineenstorting van dienslewering.

Vullishouers wat vir weke wag om verwyder te word, is deesdae ’n algemene gesig in Potchefstroom. Sommige inwoners laat vullis nou al privaat uit hul eie sak verwyder. Foto: Susan Cilliers

“Dié situasie het baie vinnig versnel nadat die Tlokwe-munisipaliteit, wat eers net Potchefstroom bedien het, in 2016 met die Ventersdorp-munisipaliteit saamgesmelt het.”

Moolman is egter skepties of die ingryping gaan help. Hy sê ’n art. 139 (1)-ingryping behels dat ’n administrateur in ’n raadgewende hoedanigheid na die munisipaliteit kom, terwyl die bestaande bestuurskorps aanbly.

“Dié administrateur is tydelik hier en het nie die vermoë om ’n langtermynstrategie deur te voer nie.”

Rosho skryf in ’n brief op 6 Mei aan dr. Zwelini Mkhize, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, JB Marks se ongemagtigde, onreëlmatige en verkwiste uitgawes het van R791 miljoen in die 2016-’17-boekjaar tot R2 miljard in die 2017-’18-boekjaar toegeneem.

Die munisipaliteit se uitstaande skuld aan krediteure was in Februarie vanjaar R66 miljoen, waarvan R36 miljoen Eskom-skuld was. Nóg ’n bekommernis is die voortdurende diensleweringsbetogings op die N14-hoofweg by Ventersdorp wat die verkeer ontwrig.

Kgotso Khumalo, uitvoerende burgemeester van die JB Marks-munisipaliteit wat Potchefstroom en Ventersdorp bedien. Foto: Potchefstroom Herald

Met die samesmelting van Tlokwe en Ventersdorp met die munisipale verkiesing in 2016, is wyd aanvaar dit was om te keer dat die DA die plaaslike regering in Potchefstroom oorneem.

Dit het toe nog betreklik goed gegaan met Tlokwe se geldsake en daar was reserwefondse. Ventersdorp was bankrot. Moolman sê nou, nie eens drie jaar later nie, is die vrese destyds dat Potchefstroom se reserwes die gate in Ventersdorp sou toestop, bewaarheid.

“Ventersdorp se uitstaande verpligtinge was destyds meer as R300 miljoen. Ons het maar R13 miljoen van die nasionale regering gekry om die samesmelting te finansier. Die huidige syfer vir die verhaling van betaling vir dienste wat in Ventersdorp gelewer word, is maar tussen 15% en 25%, maar in die hele munisipale gebied is dit 83%. Potchefstroom finansier Ventersdorp dus. Ons 2018-’19-begroting kan nie met ons bestaande inkomste gefinansier word nie.”

Vullisverwydering bly toenemend agterweë. “Net een van die tien vullistrokke werk”, sê Moolman.

Openbare parke is grootliks onversorg en met rommel bestrooi, en slaggate in paaie is ’n algemene gesig. Boqo sê nuwe vullistrokke is onlangs gekoop en dat “slaggate reggemaak en gras gesny word”. “Alles kan nie oornag gebeur nie.”

Dié Noordwes-munisipaliteite ook onder administrasie

Tswaing (Sannieshof-omgewing): Tegnies bankrot. Skuld teen Februarie 2019: R106 miljoen.

Lekwa-Teemane (Christiana): Tegnies bankrot. Skuld teen Februarie: R240 miljoen.

Ratlou (Setlagole): Tegnies bankrot.

Madibeng (Brits): Skuld teen Februarie: R22 miljoen.

Mamusa (Schweizer-Reneke): Eskom-skuld teen Februarie: R57 miljoen.

Dr. Ruth Segomotsi Mompati-distriksmunisipaliteit (Vryburg-omgewing): Swak bestuur en instandhouding van waterinfrastruktuur, swak watergehalte. Het R150 miljoen onregmatig by die VBS Mutual-bank belê.

Meer oor:  Potchefstroom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.