Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Jhb kry gou nuwe leiers, beloof nuwe burgemeester

Die Johannesburgse metroraad sal teen die einde van die week ’n nuwe bestuurspan hê, sê Geoff Makhubo, die pasverkose burgemeester.

Hy het Donderdag op ’n nuuskonferensie aan joernaliste gesê hy is slaggereed vir sy nuwe pos.

Die ANC het Woensdag met die hulp van die IVP en kleiner partye – waaronder die PAC, die AIC en al-Jama-ah – weer beheer oor die metro verkry nadat hy dit in die 2016- munisipale verkiesing aan ’n koalisie onder leiding van die DA verloor het.

Makhubo het bevestig dat die ANC ’n formele koalisie sal aangaan met die kleiner partye wat hom gehelp het om beheer oor die metro te kry. “Ons onderhandel nou oor wie wat sal lei. Dit sal ’n allesomvattende regering wees.”

Geoff Makhubo
Geoff Makhubo, die ANC se burgemeesterskandidaat, Woensdag by die raadsaal voordat die stemmery plaasgevind het. Foto: Felix Dlangamandla

Hy sê die ANC sal ook na die DA en die EFF uitreik omdat hy ’n verenigde metro wil bou. “Die afgelope drie jaar het ons verdeeldheid en ’n uiters toksiese politieke en administratiewe omgewing verduur,” sê hy.

Makhubo beweer die metro se geldsake is op die rand van ’n ineenstorting en woonbuurte lyk soos stortingsterreine weens ’n gesloer met vullisverwydering. Hy sê grondbesettings neem toe, en so ook misdaad in die middestad.

Dit is ten spyte daarvan dat Herman Mashaba, die voormalige burgemeester, beweer hy laat die metro in ’n goeie posisie agter, met drie onafhanklike organisasies wat bevind het dat die metro se geldsake gesond is.

Volgens Makhubo is die ANC daartoe verbind om korrupsie te bekamp.

“Die huidige modus operandi in die metro is nie om deursigtige tenderprosesse te volg nie, maar om regulasie 32 te gebruik om kontrakte toe te ken, meestal aan maatskappye wat nie die vereiste bevoegdhede het nie.

“Ons sê nie dat sommige van die probleme in Johannesburg nie oorgeërf is nie.

“As jy kyk na die informele nedersettings onderweg na die suide, kyk wat in wyk 109 (in Sandton) gebeur . . . (As jy kyk na) wat in Ivory Park gebeur, moet jy sekerlik erken dat die toepassing van ordonnansies, boubeheer, ineengestort het,” sê hy.

Die feit dat diensverskaffers nie betyds betaal word nie en die toestand van instellings soos Joburg Water en City Power sal bespreek word sodra hy met die stadsbestuurder vergader het ná Donderdag se raadsvergadering, sê hy.

As jy kyk na die informele nedersettings onderweg na die suide, kyk wat in wyk 109 (in Sandton) gebeur . . . (As jy kyk na) wat in Ivory Park gebeur, moet jy sekerlik erken dat die toepassing van ordonnansies, boubeheer, ineengestort het

Meer oor:  Geoff Makhubo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.