Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Jhb-metro wil gou brandweerwaens ‘wettig’ bekom

Geoff Makhubo, burgemeester van die Johannesburg-metro, het inwoners gerusgestel dat dié metro alles in sy vermoë sal doen om so gou moontlik op ’n “wettige en deursigtige” manier brandweerwaens en reddingsvoertuie aan te koop.

Mlimandlela Ndamase, Makhubo se woordvoerder, sê die bal is reeds aan die rol om die tenderproses vir advertering gereed te kry.

“Dit sal bekend gemaak word sodra al die spesifikasies daarvan afgehandel is,” het hy Dinsdag by navraag gesê. Die metro sal probeer om minstens 30 brandweerwaens en reddingsvoertuie aan te koop. Dit sal die metro byna R330 miljoen uit die sak jaag.

Dit volg nadat die hooggeregshof in Johannesburg ’n kontrak vir 48 brandweer- en reddingsvoertuie van die metro ongeldig verklaar het nadat dit aan die lig gekom het dat die kontrak onreëlmatig toegeken is.

Regter Thina Siwendu het op 29 Maart bevind dat die tender onregmatig aan TFM Industries toegeken is en dat dele van die kontrak ongeldig verklaar moet word.

Haar uitspraak het gevolg nadat die metro op 5 Julie 2019 92 brandweerwaens en reddingsvoertuie vir bykans R583 miljoen van TFM Industries verkry het deur af te wyk van wetgewing vir die munisipale verskaffingsketting. Die hof het ook bevind dat die tenderproses, die besluit om die tender toe te ken, asook die ooreenkoms tussen die metro en TFM Industries, onreëlmatig is.

Siwendu het voorts bevind dat TFM Industries die agt brandweerwaens en reddingsvoertuie waarvoor die metro reeds betaal het, binne 60 dae moet lewer.

Die metro het sy optrede aanvanklik verdedig en gesê dat hy die brandweer- en noodvoertuie dringend benodig.

Makhubo het egter in Februarie 2020 in ’n verklaring erken daar is ongerymdhede met die verkryging. Die metro het die hofuitspraak verwelkom en die skuld vir die tendertoekenning op die administrasie van Herman Mashaba, die vorige burgemeester, gepak.

Die aankoop van nuwe brandweerwaens en reddingsvoertuie is veral ook belangrik omdat die huidige vloot tans onder groot druk verkeer.

“Ons het net tussen vier en ses voertuie beskikbaar. Dit is hopeloos te min, maar ons doen ons bes daarmee. Die voertuie is strategies by brandweerstasies uitgeplaas sodat ons dit ten volle kan benut,” sê Ndamase.

Die beskikbare brandweerwaens moet sowat 5,5 miljoen inwoners bedien.

Ndamase sê intussen sal die Ekurhuleni- en Tshwane-metro die metro bystaan as daar ernstige noodgevalle is.

Robert Mulaudzi, woordvoerder van die Johannesburg-nooddienste, het vroeër aan Netwerk24 gesê daar word minstens een brandweerwa by elk van die 30 brandweerstasies oor die stad heen benodig.

“Ons het tans sewe brandweerwaens, wat nie genoeg is vir die gebied wat ons moet bedien nie, en ook nie vir die getal brandweerstasies wat ons het nie. Ons is veronderstel om minstens een brandweerwa in elke brandweerstasie te hê,” het hy gesê.

Meer oor:  Geoff Makhubo  |  Johannesburg  |  Brandweer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.