Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Johannesburg ‘sal moet uithaal en wys’ om doelwitte te bereik

Johannesburg sal moet uithaal en wys as hy sy doelwitte wil behaal om ’n slimstad te word wat by ander wêreldstede kan kers vashou.

Geoffrey Makhubo, burgemeester, het Dinsdag in sy stadsrede gesê die stad het baie planne, maar dit moes verlede jaar weens die Covid-19-pandemie uitgestel word.

“Terwyl ons moes reageer op die kommerwekkende stand van Johannesburg se finansies en die ineenstorting van goeie regering, het die koronavirus die ekonomie nog verder verswak.”

In reaksie hierop is ’n skuldrehabilitasieprogram goedgekeur. Dit sluit in dat kwalifiserende belastingbetalers onmiddellik verligting sal kry en dat 50% van hul skuld afgeskryf sal word, het hy gesê.

Makhubo is egter hoopvol dat hulle die situasie sal kan omkeer. Volgens hom sal die metro sy planne tot uitvoering kan bring nadat hy daarin kon slaag om 86,3% van sy inkomste in te vorder. Dié invorderingskoers is teen ’n aangepaste Covid-19-risikodoelwit van 88% vir die

2019-’20 boekjaar. Dit het bygedra tot ’n oorskot van R3,7 miljard vir dié finansiële jaar.

Uitdagings

Makhubo het in sy rede die uitdagings waardeur die metro in die gesig gestaar word, uitgelig en gesê dat wanadministrasie en wanbestuur uitgeroei sal word.

Watervoorsiening is een van die groot probleme vir die metro en Makhubo het erken daar is areas wat nie deurlopend water het nie. Hy het die onderneming gegee om dit daadwerklik en op die duur reg te stel.

Die stad was ongelukkig nie immuun teen die gevolge van die Covid-19-pandemie nie.

Die Stad Johannesburg het ook besluit om 6 kl water gratis aan alle huishoudings te verskaf.

Hy het bygevoeg dat die onwettige storting van vullis vir die stad ’n groot probleem is en dat munisipale regulasies toenemend verontagsaam word.

“Daarom het ons ’n wetstoepassingseenheid begin waar inwoners al hierdie oortredings kan aanmeld – van onwettige storting en advertensies tot grondbesetting.”

Sterker ekonomie vir ’n blinker toekoms

Volgens hom kan die stad net vorentoe beweeg as die fokus na die herstel van die ekonomie verskuif word wanneer die inperkingsmaatreëls verslap word.

“Die stad was ongelukkig nie immuun teen die gevolge van die Covid-19-pandemie nie.”

Talle klein besighede het gevou en daar is meer werkloosheid as wat verwag is. Die stad se ekonomie moet derhalwe nie net voorsiening maak vir werkskepping nie, maar dit moet volhoubaar en mededingend wees.

Om dit te doen wil die stad volhoubare township- ondernemings op die been bring as deel van die skep van ’n inklusiewe en groeiende ekonomie. Dit sal onder meer verseker dat die ondernemings sleutelrolspelers in die stad se ekonomie kan word.

Johannesburg is ook besig om ’n strategie te ontwikkel om bekostigbare behuising en grond aan voorheen benadeelde inwoners beskikbaar te stel.

Makhubo het ook onder meer in sy toespraak verwys na Alexandra se behuisingsuitdagings wat nog nie voldoende aangepak is nie.

Behuisingstekorte gee aanleiding tot grondvergrype en die kaping van geboue in die stad wat nie veilig is vir mense om in te woon nie. Daarom het die metro reeds begin met verskeie projekte om die administrasieprosesse vir die toewysing van huise en grond te bespoedig.

Makhubo het ook gesê City Power, die stad se kragvoorsiener, moet ondersoek instel na ander energiebronne.

“Dit kan die kragprobleme die hoof bied en sal verseker dat gemeenskappe elektrisiteit ontvang,” sê Makhubo.

Herman Mashaba, nuwe leier van Action SA en voormalige DA-burgemeester van Johannesburg, het sterk teen Makhubo se stadsrede uitgevaar.

“Hoe kan hy, as iemand wat self vir korrupsie ondersoek word, beloftes maak oor die uitroei van korrupsie en bedrog?” wou Mashaba weet.

Meer oor:  Johannesburg  |  Slimstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.