Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Kragtariewe in Jhb styg met 14,59%

Hoewel die Stad Johannesburg “probeer om sy tariefverhogings so laag as moontlik te hou” sal die stad se kragtariewe met ’n yslike 14,59% styg.

Jolidee Matongo, burgemeesterskomiteelid vir finansies van die metro, het Dinsdag in sy begrotingsrede vir 2021-’22 gesê die stad moet binne ’n “beperkte begroting van sowat R73,3 miljard” werk. Daar was egter geen ander opsie as om die koste van die munisipale dienste te verhoog nie.

Hy het aangekondig dat eiendomsbelasting, wat verlede jaar met 4% gestyg het, vanjaar met slegs 2% gaan styg.

Die koste van elektrisiteit is egter ’n ander storie. Dié sal van die vorige jaar se 6,2%-verhoging in die nuwe boekjaar met ’n yslike 14,59% styg.

Hy het gesê dié styging in die kragtarief is minder as die styging van 15,09% wat aan Nersa toegestaan is.

Die tarief vir water is ook met 6,8% verhoog, terwyl sanitasie in die nuwe boekjaar ook 6,8% duurder sal wees. Daar sal egter ’n daling in die heffing van vullisverwydering van 5,2% tot 4,3% wees.

Matongo het erken dat Johannesburg uitdagings ondervind om ’n balans te vind tussen voortgesette dienslewering, die ekonomiese agteruitgang sowel as die bestuur van die verwoestende Covid-19-pandemie.

Maar hy het bygevoeg dat die stad steeds daartoe verbind is om voort te gaan om sy infrastruktuur te ontwikkel, dienste te lewer en in die behoeftes van sy inwoners te voorsien sodat hy selfs gedurende ’n pandemie kan herbou en transformeer.

“Ons is dit aan die inwoners van Johannesburg verskuldig om met die grootste integriteit en toewyding met ons grondwetlike mandaat van ’n ontwikkelende plaaslike regering voort te gaan,” het hy gesê.

Volgens Matongo het die voortslepende pandemie steeds ’n vernietigende invloed op die lewens van die stad se inwoners.

“Dit het daartoe gelei dat baie mense sukkel om hul munisipale rekening te betaal.

“Te midde van die wisselende inkomste-invorderingskoerse word van die munisipaliteit van Johannesburg verwag om steeds te funksioneer en noodsaaklike dienste soos water, elektrisiteit, sanitasie en vullisverwydering te lewer.”

Hy het verwys na ’n peiling verlede jaar oor die uitwerking van die pandemie waarin 78% van die plaaslike munisipaliteite wat landwyd ondervra is, nie goed voorberei was om tydperke van verminderde inkomste te hanteer nie.

“Slegs 44% van het aangedui dat hulle meer as ’n maand se kontantreserwes beskikbaar het.”

Volgens Matongo kan Johannesburg egter daarin slaag om ’n sterk bedryfsprestasie te handhaaf, hoewel dit beslis deur die ekonomiese verwoesting van die pandemie geraak word.

“Die stad se likiditeit het effens van R5,4 miljard in 2018-’19 tot R5,6 miljard in 2019-’20 verbeter. Ons skuldvlakke sal na verwagting ook in 2023 onder 40% van die bedryfsinkomste wees” het hy gesê.

Matongo het verder gepraat oor infrastruktuurprojekte, behuising en openbare vervoer asook die indiensneming van meer vullisverwyderaars.

“’n Belangrike kwessie is die onbetroubaarheid van kragvoorsiening in sekere buurte. Met die bedryfsuitgawebegroting van R19,9 miljard sal City Power herstelwerk en die installering van straatligte kan doen, en kragonderbrekings, herstelwerk aan fasiliteite, asook voorkomende instandhouding kan hanteer om die stabiliteit van die netwerk te verbeter,” het hy gesê.

Meer oor:  Johannesburg-Metro  |  Begroting  |  Kragtariewe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.