Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Kaapse metro ‘tap bloed uit klip’ met nuwe tariewe

“Julle tap bloed uit ’n klip. Nee, ek is nié tevrede met die beoogde verhogings van tariewe vir water en elektrisiteit nie.”

Dié kommentaar is een van duisende wat inwoners van Kaapstad ingedien het nadat die metroraad sy verwagte verhogings in munisipale tariewe, asook grondbelasting, bekend gemaak het.

Die metroraad hou Woensdagoggend ’n spesiale raadsvergadering waarin die begroting – insluitend die verhogings in die prys vir water en elektrisiteit – goedgekeur moet word.

Indien die raad hou by die konsepbegroting, sal daar vanaf 1 Julie gemiddeld 8,8% meer vir elektrisiteit betaal word en 9% meer vir water en sanitasie.

In die konsepbegroting word voorgestel dat grondbelasting vir huiseienaars bereken word deur eers R300 000 af te trek van die waardasie van hul eiendom soos aangedui op 2018 se waardasierol, en dan word die waarde met 0,00555 pleks van 0,00714, soos in die huidige boekjaar, vermenigvuldig.

Buiten vir die voorgestelde gemiddelde 9%-verhoging vir water, sal die basiese tarief gekoppel aan die grootte van eiendomme se watermeters steeds van krag wees, maar die voorstel is dat dit nie verhoog word nie.

Dié basiese maandelikse bedrae is:

* R56 vir ’n meter van 15 mm;

* R100 vir ’n meter van 20 mm;

* R156 vir ’n meter van 25 mm;

* R400 vir ’n meter van 40 mm;

* R625 vir ’n meter van 50 mm; en

* R1 600 vir ’n meter van 80 mm.

Van die kommentaar van inwoners gedurende die openbaredeelnameproses vir die voorgestelde begroting, sluit in:

* “Nee, ek stem nie saam met die voorgestelde begroting en tariewe nie. Julle tap bloed uit ’n klip. My ouers is pensioentrekkers en leef op een pensioen. Ek is werkloos, so ek en my lewensmaat leef van een inkomste. Ons betaal en betaal en betaal sodat ander gebiede nie hoef te betaal nie . . .”

* “Die verhogings maak ons dood, veral ons pensioentrekkers. Dit het onmoontlik geraak om soos normale mense voort te gaan en baie moeilik om af te skaal, omdat ons reeds aan die bodem van die put is.”

* “Ek stem glad nie saam met die verhoging van elektrisiteitstariewe nie nadat die meeste van Eskom se geld gesteel is. Kry die diewe om ons geld terug te betaal, of sluit hulle toe totdat hulle dit doen.”

* “Nee, ek stem nie saam met die voorgestelde begroting en tariewe nie. Eiendomswaardasies en die ware waarde van die eiendom stem nie ooreen nie. Bestuur ons waterbronne beter en ons sal nie ’n probleem hê nie. Dit is ’n absolute skande hoe die geld by Eskom gesteel is en nou moet ons daarvoor betaal.”

* “Die koste van elektrisiteit is ’n moeilike kwessie. Die swak bestuur van Eskom het gelei tot ’n grootskaalse vermorsing van geld, ’n tekort aan onderhoudswerk en die verlies aan kapasiteit om aan die behoefte van die land te voldoen. Daar is vele verbruikers van elektrisiteit wat nie betaal nie. Al die kwessies moet aandag kry voordat goeie landsburgers met nog verhogings belas word.”

* “Waarom is daar nie ’n subsidie vir mense wat sonkragpanele geïnstalleer het nie?”

* “Die Kaapstadse metroraad moet betalings insamel van almal wat nie nou grondbelasting of vir water en elektrisiteit betaal nie. Pensioentrekkers het hul belasting betaal toe hulle gewerk het en moet nou ’n baie laer tarief gevra word.”

* “As ’n pensioentrekker meen ek ons moet verlaagde tariewe hê. Ons het hard gesukkel om te kry wat ons het, dit is nie regverdig nie. Dit is ’n mite dat die afslag vir pensioentrekkers maklik is om te verkry. Hulle moet beter afslag kry.”

Meer oor:  Tariewe  |  Verhogings  |  Dienslewering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.