Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Kaapstad appelleer teen ‘gevaarlike’ hofbevel oor grond

Kaapstad se teengrondbesettingseenheid mag nie mense uit hul huise sit of strukture vernietig terwyl die staat van inperking van krag is nie – of die strukture nou bewoon word of nie.

Regters Shehnaz Meer en Rosheni Allie het Dinsdag in die hooggeregshof in Kaapstad ’n tussentydse interdik wat dit verbied aan die Menseregtekommissie (MRK) toegestaan, maar Dan Plato, die stad se burgemeester, het onmiddellik gesê die stadsraad gaan appèl aanteken.

Wetstoepassers bots met vermeende grondbesetters. Foto: Jaco Marais
Inwoners van Khayelitsha, wat vroeër ‘n stuk grond langs Baden Powell-weg beset het, betoog terwyl lede van die SANW en SAPD versperrings uit die pad verwyder. Foto: Jaco Marais

Die MRK en die EFF het die hof spesifiek gevra vir ’n bevel wat grondeienaars sal verhoed om onbewoonde strukture te verwyder ten einde grondbesettings te voorkom.

Die kommissie versoek ook dat alle bestaande hofbevele wat die stad toelaat om spesifieke grond teen

besetting te beskerm, nietig verklaar word.

Die hofaansoek volg op die omstrede uitsetting van Bulelani Qolani wat in Julie naak uit sy struktuur in Khayelitsha verwyder is.

Die hof het die stad ’n week gegee om “alle boumateriaal en persoonlike besittings”, wat sedert 1 Mei deur die stad se teengrondbesettingseenheid afgeneem is, terug te besorg en R2 000 se vergoeding aan die betrokkenes te betaal.

Plato sê die Kaapse metro het sedert 1 Julie meer as 5 500 onwettige strukture in nagenoeg 30 verskillende gebiede in die stad verwyder.

Volgens die stad is meer as 100 verskillende voorvalle van grondbesetting reeds aangemeld. Hy hou vol dat die stad se optrede noodsaaklik is om te verseker dat wette handhaaf word om openbare grond te beskerm wat vir dienste, behuising, gemeenskapsgeriewe, skole en vervoerdienste bedoel is.

Die uitwerking hiervan op munisipaliteite landwyd gaan beduidend wees. Alle metro’s, asook grondeienaars landwyd, word geraak.

Plato sê hulle verwag dat pogings om grond te beset na dié beslissing gaan toeneem.

“Dit skep ’n gevaarlike presedent vir alle grondeienaars. Indien dit onbetwis bly, gaan die bevel dit bykans onmoontlik maak vir grondeienaars om hul eiendomme teen onwettige besetting te beskerm en om te keer dat mense huise – selfs al is dit onwettig – op ander se eiendom oprig.”

Die MRK vra die hof in sy hoofaansoek, wat eers in Oktober aangehoor word, spesifiek om teenspoliasie onregmatig te verklaar en om die gemenereg hieroor te wysig.

Teenspoliasie is ’n regsremedie wat ’n persoon toelaat om eiendom wat onwettig van hulle gevat is, met geweld terug te neem.

Die applikante vra ’n bevel wat alle bestaande hofbevele wat teenspoliasie toelaat, nietig verklaar word.

“Die uitwerking hiervan op munisipaliteite landwyd gaan beduidend wees. Alle metro’s, asook grondeienaars landwyd, word geraak.”

Plato sê die howe gaan oorval word deur aansoeke van grondeienaars wat dringend uitsluitsel sal wil hê oor of ’n spesifieke struktuur bewoon is en aan ’n uitsettingsbevel ingevolge die Wet op Grondbesettings onderhewig is.

Die burgemeester sê teen die tyd dat die kwessie in Oktober die hof aangehoor word, gaan die grond moontlik reeds weens onwettige besettings verlore wees.

Plato het gewaarsku dat mense wat nie kan bekostig om die howe te nader nie, hul grond weens onwettige besettings kan verloor.

“Indien dit suksesvol is, kan die MRK se hoofaansoek – waarby die EFF hom aangesluit het – die sluise ooptrek vir onwettige grondbesettings wat tot ’n gebrek aan reg en orde sal lei.”

Ons doen ’n beroep op alle buurtwagte om ekstra waaksaam te wees teen enige persone wat potensieel enige vorm van tent of struktuur op enige oop ruimte wil oprig en op te tree sodra sulke grondbesetters opgemerk word.

Dit kan selfs beteken dat openbare grond in so ’n mate beset word dat dit die staat se behuisingsplanne en die stad se geïntegreerde ontwikkelingsplanne heeltemal sal ondermyn.

“Die stad het sterk gestaan teen onwettige besettings oor die afgelope ses weke. Ons gaan nie nou die stad se inwoners versaak nie en ons gaan optree om

grondbesettings te voorkom totdat die bevel hersien is,” het Plato gesê.

Kort ná die hofuitspraak het verskeie waarskuwings oor grondeienaars wie se eiendomme nou in gevaar sal wees, die ronde gedoen.

“Ons doen ’n beroep op alle buurtwagte om ekstra waaksaam te wees teen enige persone wat potensieel enige vorm van tent of struktuur op enige oop ruimte wil oprig en op te tree sodra sulke grondbesetters opgemerk word,” lui ’n kennisgewing.

Luidens ander doen die stad ’n beroep op alle buurtwagte om bykomende patrollies te hou en vir minstens die volgende twee weke ekstra vrywilligers te mobiliseer.

Die EFF het die hofuitspraak verwelkom en gesê die stad was die afgelope paar maande tydens ’n wêreldwye pandemie met “onmenslike en misdadige uitsettings” besig.

“Hierdie uitspraak bevestig die EFF se bewerings dat die DA-beheerde stad ’n administrasie van boewe is wat ’n doelbewuste agenda het om swart mense te ondermyn en te mishandel.”

Meer oor:  Menseregtekommissie  |  Dan Plato  |  Kaapstad  |  Grond  |  Hofbevel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.