Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Kaapstad se raadslede kry verhogings ondanks Covid-19

Terwyl duisende mense in Kaapstad hul werk verloor of moet aanpas by salarisse wat gesny word, is die raadslede en beamptes van die Kaapstadse metroraad van die gelukkige mense wat steeds in Julie salarisverhogings gaan kry.

Die meerderheid raadslede van die DA-beheerde metroraad het Woensdag op die jaarlikse raadsvergadering ten gunste van salarisverhogings vir hulself en amptenare gestem. Meer as ’n derde van die Kaapstadse metro se uitgawes (33,9%) ten bedrae van R15,2 miljard word vir salarisse begroot in die 2020-’21-boekjaar wat op 1 Julie begin.

Die raadslede het besluit om te hou by die ooreenkoms met die bedingingsraad vir plaaslike regering voor die uitbreking van Covid-19 en salarisverhogings van 6,25% is vir munisipale beamptes goedgekeur.

Vir raadslede word daar gehou by die besluit van die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, wat salarisverhogings van 5,48% behels.

'n Vroeëre sitting van die Kaapse metroraad. Foto: Malherbe Nienaber

Inwoners van Kaapstad gaan met hul erfbelasting en ander munisipale heffings en fooie R227 miljoen betaal vir die salarisse van raadslede en die 12 top-betaalde amptenare van die metroraad.

Hiervan is Dan Plato, burgemeester, se totale jaarlikse pakket R1,56 miljoen en Ian Neilson, onderburgemeester, se totale jaarlikse pakket R1,27 miljoen.

Die munisipale bestuurder van Kaapstad, Lungelo Mbandazayo, se totale jaarlikse salarispakket is R3,7 miljoen. Nog vier uitvoerende direkteure verdien meer as R3,2 miljoen per jaar en die ander ses verdien jaarlikse salarisse van tussen R2,7 miljoen en R2,9 miljoen.

Demetrius Dudley, ACDP-raadslid, het Woensdag op die raadsvergadering (wat virtueel op Skype gehou is) gevra dat salarisverhogings vir raadslede vanjaar afgekeur word weens die Covid-19-ramp.

Hy het ook gevra dat al die uitvoerende raadslede se salarisse eerder met 10% gesny word sodat die geld gebruik kan word in die departemente van gesondheid en maatskaplike ontwikkeling en na informele nedersettings gaan om die lewenstoestande van die arm mense te verbeter.

Sy voorstel is deur die meerderheid raadslede verwerp.

Dudley het gesê daar moet in ag geneem word dat daar voor Covid-19 op die verhogings besluit is. Hy het uitgewys dat pres. Cyril Ramaphosa en sy kabinet elkeen 33% van hul salarisse vir drie maande ingeboet het en dat die president, ministers en sommige van die senior amptenare in die nasionale regering nie vanjaar salarisverhogings gaan kry nie.

“Daar kan op redelik gronde van ons verwag word om ons deel te doen as ’n mens in ag neem wat die impak van die inperking op die ekonomie is en op klein besighede, afgedankte personeel en vele mense wat slegs ’n deel van hul salarisse verdien,” het Dudley gesê.

Die vlak van armoede raak erger en sal steeds vererger en ’n mens moet onthou dat munisipale salarisse uit erfbelasting, heffings en fooie, die inkomste uit verkeersboetes en boetes vir die oortredings van verordeninge betaal word, volgens Dudley.

Hy het gesê terwyl inwoners van Kaapstad moet opdok vir verhoogde erfbelasting en ander munisipale verhogings, sal die munisipale salarisverhogings ’n bitter pil wees vir mense om te sluk.

Meer oor:  Dan Plato  |  Kaapstad-Metro  |  Raadslede  |  Verhoging  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.