Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Kaapstadse middestad blink geskrop
Skoonmakers van die CCID skrop die Moederstad se strate nou behoorlik skoon. Foto: Nicky Newman

Die middestad van Kaapstad word nou behoorlik skoon geskrop terwyl die strate en geboue waar daar gewoonlik duisende mense byeen is, so te sê verlate is.

Tasso Evangelinos, uitvoerende hoof van die Kaapstadse middestadverbeteringsdistrik (CCID), sê nie net word asblikke en selfs lamppale nou behoorlik gewas nie, maar werkers word ook opgelei om te help om geboue se deurhandvatsels, die knoppies van voetgangeroorgange by verkeersligte, asook die skerms van kitsbanke, te help was en te ontsmet wanneer die staat van inperking verby is.

Die nuwe “ontsmettingsambassadeurs”, soos Evangelinos hulle beskryf, sal help baklei teen die verspreiding van die koronavirus wanneer mense weer op straat toegelaat word.

Dié spesiale skoonmakers sal spesiale toerusting dra en sal maklik deur die publiek uitgeken word.

Ondernemings is gevra om hul duur voorraad uit die vertoonvensters te verwyder sodat dit nie ’n lokaas vir inbrekers is nie.

Evangelinos sê die plan is eintlik dié van Gene Lohrentz van die Maitland-verbeteringsdistrik wat die CCID ook in Kaapstad toepas.

Die dienste wat deur die CCID verskaf word, moes blitsig aangepas word by die staat van inperking.

Veiligheidsbeamptes van die CCID het in die eerste drie dae van die inperking gehelp om inbrekers wat by ’n paar plekke in die stad ingebreek het met die hulp van die polisie en metrobeamptes vas te trek.

Sedertdien was daar nog nie weer inbrake by sakepersele in die middestad nie, sê Evangelinos.

Ondernemings is gevra om hul duur voorraad uit die vertoonvensters te verwyder sodat dit nie ’n lokaas vir inbrekers is nie. Die eienaars is ook gevra om hul kontakbesonderhede op die vensters van hul ondernemings aan te bring sodat hulle vinnig opgespoor kan word ingeval daar probleme is.

Een van die CCID se patrollievoertuie in Langstraat – ’n straat wat gewoonlik saans vol lewe is, maar wat nou verlate is. Foto: CCID

Evangelinos sê die 300 CCID-beamptes wat diens doen in die middestad maak gewoonlik seker dat mense veilig is. Noudat daar byna geen mense op straat is nie, het die fokus daarna verskuif om eiendomme te beskerm.

Wanneer die strate vol mense is, is die skoonmakers se taak om gemors soos sigaretstompies wat hulle in die strate gooi, so gou moontlik op te tel.

Nou is daar geleentheid om dieper skoon te maak. Asblikke word gewas en sigaretstompies wat in krake in sypaadjies vassit, word uitgekrap.

“Ons skrop nou die stad behoorlik skoon.”

Evangelinos sê die spesiale regulasies wat met die bestryding van die koronavirus ingestel is, sou nie slaag sonder diegene wat noodsaaklike dienste lewer nie – wetstoepassers, gesondheidswerkers, skoonmakers.

“Ons sal ons uitdagings met ons unieke Suid-Afrikaanse styl en humor saam oorwin.”

Meer oor:  Koronavirus  |  Stad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.