
Die stadsaal in Kaapstad was Woensdagaand volgepak tydens die heropening van die gebou nadat opknappingswerk gedoen is. Foto: Jaco Marais
Ná nege maande van opknappingswerk is die Kaapstadse stadsaal nou gereed om “wêreldklasgeleenthede aan te bied”.
Dít was die boodskap van Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad, Woensdagaand tydens die heropening van die stadsaal, wat 113 jaar oud is.
Die opknappingswerk, wat in November 2017 begin het, is die eerste groot restourasie wat sedert 1947 by die stadsaal gedoen is.
Van die vernaamste opknappingswerk behels die vervanging en opgradering van die ouditorium se sitplekke, die herstel en stabilisering van die vloere, nuwe meganiese ventilasie en ’n nuwe brandstelsel.

Patricia de Lille, Kaapstadse burgemeester, praat tydens die heropeningseremonie. Foto: Jaco Marais
“Die opknappings sal verseker dat die stadsaal aan die nasionale veiligheidsregulasies voldoen en almal wat die lokaal wil geniet dit met gemak kan doen,” het De Lille gesê.
Die stad het tot dusver R48 miljoen in die opknapping belê. Die werk het in die vorige boekjaar begin en sal voortduur tot in die volgende boekjaar.
Buiten vir enkele afwerkings was die meeste van die opknappingswerk in Julie voltooi.
Dit was ook in Julie dat die nuwe bronsbeeld van oudpres. Nelson Mandela by die stadsaal onthul is.
Die onthulling het deel gevorm van die eeufeesviering van die ontslape Mandela se geboortedag.
“Die toevoeging van die standbeeld is ’n belangrike deel van die verhaal van ons geskiedenis en die sleutelgebeure wat ons stad en inderdaad ons land gevorm het.
“Dit was hier by die stadsaal waar Madiba sy eerste toespraak as ’n vrye man gemaak het, nadat hy ná 27 jaar uit die tronk vrygelaat is,” het De Lille gesê.
Die heropening van die stadsaal is Woensdagaand gevier met ’n musiekvertoning deur plaaslike kunstenaars.
Die stadsaal is die tuiste van Maleise kore en die Kaapse Filharmoniese Orkes.
Daar is ook planne om die omliggende gebied en die stadsaal vir musiekgebeure in te span.

Die bronsbeeld van oudpres. Nelson Mandela wat in Julie as deel van die opknappingswerk by die stadsaal onthul is. Foto: Jaco Marais