Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Kán Kaapstad-metro treine werklik beter bestuur? – ACDP

Die Kaapstadse metroraad wil die mank treindienste in die metropool oorneem, maar “hy kan nie eens die MyCiTi-snelbusdiens behoorlik bestuur nie”, sê die ACDP.

Dan Plato, burgemeester, het Donderdag op ’n raadsvergadering gesê Kaapstad groei voortdurend en die ekonomie hier vaar beter as in ander dele van die land. Die ineenstorting van die treindienste kniehalter egter verdere ekonomiese groei.

Nog 18 treinwaens is verlede week in die jongste brand in die Kaapstadse stasie uitgebrand.Foto: Verskaf: Kaapstadse metroraad

Plato het die swak treindienste voor die deur van die nasionale regering gelê en gesê die metroraad het geen bedryfsbeheer oor die treine nie.

In die afgelope drie jaar is sowat 160 treinwaens uitgebrand. In die jongste voorval is 18 treinwaens verlede week vernietig.

“As ons soveel kan bereik in ander afdelings wat ons bestuur, dink net wat ons kan doen indien ons die treindienste ook bestuur,” sê Plato.

Maar Grant Haskin, ACDP-raadslid, is nie so seker daarvan nie. Hy het in vraetyd ná Plato se toespraak gesê die burgemeester klink baie selfversekerd daaroor dat die metroraad die treindienste suksesvol sal bestuur. In die lig van die mislukking van die MyCiTi-snelbusdiens dink hy nie dat die vertroue op die werklikheid gegrond is nie.

Hy wou weet wanneer die MyCiTi-diens na Mitchells Plain en Khayelitsha hervat gaan word.

Plato het hierop geantwoord dat daar hard gewerk word om die metroraad se vervoerafdeling reg te ruk. Wat skeefgeloop het, het gebeur voordat hy as burgemeester by Patricia de Lille, nou minister van openbare werke en infrastruktuur, oorgeneem het.

“Julle het die gemors aangevang voordat ek hier aangekom het,” het Plato gesê.

Julle het die gemors aangevang voordat ek hier aangekom het.

Hy het verwys na noodsaaklike treindienste wat weke lank nie loop nie – ’n bewys dat dit nie reg bestuur word nie. Hy wou weet met watter oplossing die ACDP vorendag kan word, eerder as om net klappe uit te deel.

Hy sê die vakbonde wil nie saamwerk nie en daar moes van vooraf voorstelle gevra word vir potensiële agente om die snelbusdiens te bedryf.

Volgens hom sal daar na verwagting binne die volgende paar dae, of ’n week of twee, ooreenkomste met nuwe agente onderteken word.

Meer oor:  Treine  |  Treindienste  |  Dan Plato
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.