Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Karoo-dorpe kry dalk beurtkrag oor hul Eskom-skuld

Die beplande onderbreking van kragtoevoer na drie Karoo-dorpe weens agterstallige skuld sal na verwagting Donderdag geïmplimenteer word.

Luidens ’n kennisgewing van Eskom sal Willowmore, Steytlerville en Jansenville in die Dr. Beyers Naudé-munisipaliteit in die Oos-Kaap geraak word.

Dit kom nadat die munisipaliteit nie by die skuldooreenkoms gehou het wat in Oktober met die kragverskaffer gesluit is nie.

Volgens Vicky Knoetze, DA-woordvoerder vir samewerkende regering en tradisionele sake in die Oos-Kaap, het die munisipaliteit Eskom toe R84 miljoen geskuld, wat intussen tot R96 miljoen gestyg het.

’n Foto van die Karoo-dorp Steytlerville. Foto: Argief

Eskom het Woensdag in ’n verklaring bevestig dat die beplande kragonderbrekings sal voortgaan totdat die munisipaliteit die saak reggestel het.

Eskom het benadruk dat kragonderbrekings die laaste uitweg is.

Die kragonderbrekings sal na verwagting Donderdag begin en van Maandag tot Vrydag toegepas word.

Die kragtoevoer sal in die eerste week tussen 06:00 en 09:00 en weer tussen 17:00 en 20:30 onderbreek word.

Naweke sal die krag van 08:30 tot 12:00 en weer van 15:00 tot 19:00 afgesny word.

Kragonderbrekings kan in die tweede week drasties toeneem wanneer die dorpe vir 14 uur geen elektrisiteit sal hê nie – van 06:00 tot 20:00 van Maandag tot Sondag.

Die ingang na Jansenville. Foto: Argief

Knoetze sê sy het verlede week ’n pleidooi aan Fikile Xasa, Oos-Kaapse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, en Eskom gerig waarin sy die verskillende rolspelers vra om so gou as moontlik ’n ooreenkoms te bereik wat die kragonderbrekings sal afweer.

“Die probleem is dat jy as verbruiker koop en betaal vir die elektrisiteit, maar die geld word nie aan Eskom oorbetaal nie. Nou word die inwoners gestraf.”

Volgens Knoetze kan die munisipaliteit se finansiële probleme grootliks toegeskryf word aan die samesmelting van die Kamdeboo-, die Baviaans- en die Ikwezi-munisipaliteit, wat die Dr. Beyers Naudé-munisipaliteit gevorm het.

Sy sê die nuwe munisipaliteit se begroting is veel kleiner as wat die drie munisipaliteite op hul eie sou kry.

“Die samesmelting is om die verkeerde redes gedoen. Dit was om stemme te werf en dienslewering ly nou daaronder.”

Sy sê indien ’n ooreenkoms wel met Eskom bereik word, sal die munisipaliteit minstens R24 miljoen van die skuld moet betaal, terwyl dit in ’n finansiële verknorsing verkeer.

“Wanbestuur en onreëlmatige uitgawes is van die oorsake.”

Oscar Mabuyane, Oos-Kaapse LUR vir finansies, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, het amptenare intussen opdrag gegee om saam met Eskom en die munisipaliteit ’n oplossing te vind wat die dreigende kragonderbrekings sal voorkom.

Mvusiwekhaya Sicwetsha, die LUR se woordvoerder, sê amptenare vergader reeds van vroeg Woensdagoggend af en hy wag op terugvoering oor ’n moontlike oplossing.

Wilca Smith, waarnemende woordvoerder van die Dr. Beyers Naudé-munisipaliteit, het Woensdag per e-pos gesê Eskom en die munisipaliteit is besig met onderhandelings en meer besonderhede sal later bekend gemaak word.

Sy was egter nie vir verdere navrae beskikbaar nie.

Meer oor:  Eskom  |  Jansenville  |  Steytlerville  |  Oos-Kaap  |  Willowmore  |  Beurtkrag  |  Munisipaliteite
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.