Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
‘Katastrofe’ wag sou Eskom nie rekening ontvries

’n “Menslike katastrofe” is ophande sou die hof nie ingryp en die bankrekening van die sukkelende Maluti-a-Phofung-munisipaliteit (Kestell, Harrismith en Qwaqwa) in die Oos-Vrystaat ontvries nie, voer die munisipaliteit in hofstukke aan.

Kestell is deel van die sukkelende Maluti-a-Phofung-munisipaliteit in die Oos-Vrystaat.

Eskom het die munisipaliteit se bankrekening vroeër kragtens ’n hofbevel laat bevries weens agterstallige skuld.

Regter Joseph Mhlambi het vroeër beveel die nasionale kragverskaffer moet weer die munisipaliteit se bankrekening ontvries, maar Eskom het aansoek gedoen om verlof tot appèl, wat beteken die rekeninge is steeds bevries.

Die Maluti-a-Phofung-munisipaliteit het Donderdag voor regter Corné van Zyl ’n aansoek gebring dat Mhlambi se uitspraak as tussentydse bevel uitgevoer moet word.

Mhlambi het in sy uitspraak gesê Eskom moet die munisipaliteit se FNB-rekening, waarop hy beslag gelê het, weer ontvries. Eskom het enkele ure daarna ’n aansoek om verlof tot appèl ingedien.

Die munisipaliteit argumenteer in nuwe hofstukke Mhlambi se uitspraak was net tussentyds en dat Eskom se aansoek tot verlof om appèl nie die uitvoerbaarheid van die oorspronklike bevel ophef nie.

FNB word ook gevra om aan Mhlambi se bevel gehoor te gee en die geld in die rekening onmiddellik aan die munisipaliteit beskikbaar te stel.

In Mhlambi se bevel word melding gemaak van skuld van onderskeidelik R2,4 miljard en R1 miljard van die munisipaliteit aan Eskom.

Luidens hofstukke kan die “ongekende en onherroepelike skade” wat die munisipaliteit, sy werkers en die gemeenskap as geheel gaan ervaar, verhoed word as Eskom en FNB eenvoudig die bankrekening ontvries.

Munisipale werkers het glo agt weke laas ’n salaris gekry en hul bydraes tot mediese fondse is ook nie betaal nie. Dit laat die werkers kwesbaar sou hulle mediese behandeling benodig en fondse weier om daarvoor te betaal.

Die munisipaliteit kan ook nie brandstof vir sy instandhoudingsvoertuie koop nie, die brandweer en brandbestrydingseenheid is tot stilstand gedwing en die afdeling vir water en sanitasie kan nie die nodige chemikalieë aanskaf waarmee drinkwater gesuiwer word nie.

Die gehalte van die munisipale drinkwater is reeds “twyfelagtig”, sê die munisipaliteit. Beskadigde infrastruktuur kan nie herstel word nie en grootskaalse rioolspoelings kom voor, wat tot onveilige en onhigiëniese toestande lei.

Diensverskaffers van die munisipaliteit kan ook nie betaal word nie en het dienste gevolglik opgeskort.

Van Zyl het egter uitspraak voorbehou, wat beteken die munisipaliteit se bankrekening bly vir eers bevries.

Daar word geen melding in die hofstukke gemaak van hoeveel geld tans in die munisipaliteit se bankrekening is nie.

Teen einde Augustus het agterstallige munisipale skuld aan Eskom R31,8 miljard beloop. Die rente hierop beloop R6,7 miljard per jaar. Lopende skuld is nie hierby ingesluit nie.

Die kragvoorsiener het begin om sy voet dwars te sit en daadwerklike stappe te doen om die geld in te vorder.

Dit sluit in om munisipaliteite se krag af te sny, beurtkrag toe te pas, beslag te lê op bates of om bankrekeninge te laat bevries.

Meer oor:  Eskom  |  Munisipale Skuld  |  Kragvoorsiening  |  Skuld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.