Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Kersdag dalk kragloos in Kempton Park, Roodepoort
Jaco Terblanche (46), ’n wyksraadslid en inwoner van Kempton Park.

Kragonderbrekings krap mense se planne lelik deurmekaar in dele van die Oos- en Wes-Rand in Gauteng.

Inwoners van Kempton Park en Roodepoort is raadop.

“Ons het besluit ons gaan nou maar kouevleis en slaai vir Kersfees maak, want ons kan nie seker wees dat ons krag gaan hê nie,” sê Jasinta Meyer (36) van North Riding in Roodepoort.

Sy woon al twee jaar in die gebied. Sy sê kragonderbrekings is ’n gereelde probleem en dat die krag al vir naweke aaneen af was.

“Dit is moeilik om goed te beplan soos kosmaak, wasgoed was en stryk. Dit is ’n groot frustrasie.”

Sy sê die kragonderbrekings het ook ’n massiewe invloed op verkeer omdat die verkeersligte dan nie werk nie.

“Die voertuie staan basies op mekaar in die oggende en daar is gereeld ongelukke,” sê Meyer.

Isaac Mangena, Johannesburg City Power se woordvoerder, sê beplande kragonderbrekings om instandhoudingswerk te doen is vir die res van die jaar opgeskort.

“By Roodepoort is daar egter noodgevalle waaraan ons moet aandag gee,” sê Mangena.

“Die waarheid is dat ons nog nie herstel het van beurtkrag en die reën nie en dat ons steeds ’n agterstand (wat herstelwerk betref) het,” sê Mangena. Hy sê dit is weens dié agterstand dat Roodepoort die afgelope twee weke pal met kragonderbrekings sukkel.

Hy sê ander probleemgebiede sluit in Lenasia en Randburg. Volgens hom is dit onmoontlik om te sê of dié gebiede Kersdag krag sal hê.

Jasinta Meyer (36) van North Riding in Roodepoort.

“Ons het die stelsel gestabiliseer en onderbrekings kry aandag soos en wanneer dit gebeur,” sê Mangena.

Jaco Terblanche (46), ’n wyksraadslid en inwoner van Kempton Park, sê dele soos Glen Marais en Birchleigh sit amper daagliks sonder krag. Hy en ander inwoners is keelvol.

“Ek bly in ’n plek wat elektrisiteit gebruik om water te pomp, so as ons nie krag het nie, beteken dit ons het ook nie water nie. Ek het drie klein kinders en dit is vir ons ’n geweldige probleem.”

Volgens hom sukkel hulle al langer as ses maande met dié probleem. Hy woon al 14 jaar in Kempton Park en sê die elektriese infrastruktuur gee in. “Daarom gaan ek op Kersdag so ver as moontlik van Kempton Park af wees.”

Themba Radebe, woordvoerder van die Ekurhuleni-metro, sê die mees onlangse kragonderbreking in die gebied is veroorsaak deur ’n probleem by ’n plaaslike substasie.

Hy kon nie sê of die ligte op Kersdag aan gaan wees nie.

“Ons probeer om enige kragonderbrekings af te weer, maar ons het nie beheer oor kabels wat breek of gesteel word nie,” sê Radebe.

Lindela Mashigo, Tshwane se woordvoerder, het nie op navrae oor Pretoria se kragtoevoer gereageer nie.

Meer oor:  Roodepoort  |  Kempton Park  |  Kersdag  |  Kragonderbrekings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.